News
R59-tragedie: Dubbele botsing in mis eis 21-jarige
SASOLBURG. - ‘n Dubbele fratsbotsing in digte mis het verlede Dinsdagoggend die lewe van Chené van Straaten (21), ‘n plaaslike model en voormalige eerste prinses in die “International Princess Pageant 2016”, op die R59-snelweg naby die Ascot-on-Vaal afrit geëis.

Volgens die Vrystaatse polisiewoordvoerder, Livhuhani Hani, het Chené die oggend in baie mistige toestande en druk verkeer in die rigting van Sasolburg gery, toe sy met haar motor teen die agterkant van ‘n bakkie voor haar gebots het.
Chené en die bestuurder van die bakkie het uit hul voertuie geklim om na die skade te kyk. Paramedici was op die toneel om seker te maak dat daar geen ernstige beserings was nie, voordat hulle daar weg is om hulp by ‘n ander ongelukstoneel op die R82 naby die Viljoensdrift-poskantoor te gaan verleen.
Die paramedici was pas weg toe ‘n vragmotorbestuurder wat Chené nie in die digte mis gesien het nie, haar in die regterkantste noodbaan waar sy gestaan het, getref het. Sy was in ‘n kritieke toestand toe paramedici kort daarna weer op die toneel opdaag. Daar is onmiddellik met gevorderde lewensondersteunende behandeling begin, maar haar toestand het vinnig versleg en sy het kort daarna gesterf.
Iemand op die toneel het Chené se werkgewer, Active English, gebel om die slegte nuus oor te dra, waarna haar familie oor die skokkende gebeure ingelig is. Haar oom, Marius van Straaten en haar ma, Gerda, het hulle dadelik na die toneel gehaas en ook Chené se pa en broer geskakel. Dit was egter te laat vir die familie om Chené vir oulaas lewend te sien.
Chené is op 6 Maart 1996 in Mediclinic Vereeniging gebore en het aan die Laerskool Handhawer en Vereeniging Gimnasium skoolgegaan, waar sy ‘n prefek was en in 2014 met drie onderskeidings gematrikuleer het. Chené was besig met ‘n kursus in sakebestuur en het bykomend tot haar studies ook by Active English gewerk, en Engelse klasse by verskeie laerskole aangebied.
“Die kinders was gaande oor haar,” sê Helgard en Suzette Ferreira, woordvoerders van die Van Straaten-gesin. Sy het graag kunswerkies wat engeltjies uitgebeeld het, aan die kleingoed gegee.
Hoewel Chené ‘n stil mens was, was sy baie lief vir mense en diere. Sy was ‘n perfeksionis, lief vir fyn kuns en scrap-booking, baie geheg aan haar gesin en vriendinne, en baie lief vir haar kêrel van die afgelope jaar en sewe maande, Anrich Jooste. Soos die res van hul familie en vriendekring, is hy ook platgeslaan deur haar skielike dood.
Chené het van jongs af modelwerk gedoen en was in 2013 Chantenique-modelskool se Model van die Jaar. Dit was haar droom om eendag Mej. Suid-Afrika te word. Chené gaan egter nie net vir haar uiterlike skoonheid onthou word nie, maar ook vir haar mooi hart en persoonlikheid. Sy is die afgelope week op Facebook herhaaldelik deur vriende en familie as ‘n “engel” beskryf. Dit was ook Maandag die tema tydens haar huldigingsdiens in die Hervormde Kerk, Vanderbijlpark-Oos.
Chené het altyd groot vreugde daaruit geput om die handsakke, skoene, en klere wat sy vir haar modelwerk moes koop, agterna aan ander, en veral aan minderbevoorregtes, te gee. Haar familie wil haar mededeelsame karakter graag laat voortleef in ‘n projek om padveiligheid te bevorder en sodoende padsterftes te voorkom. “Haar verhaal moet voortgaan en selfs in die dood sal sy praat,” sê Helgard en Suzette.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



