Wees bedag teen fopnuus – so kan jy maak
Wat sal die lewe wees sonder om op hoogte van sake te wees? Dit is net jammer dat daar soveel webtuistes is wat fopnuus verprei dat mens dikwels nie weet wat is waar en wat nie.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) maan sosiale media gebruikers om nie fopnuus te versprei nie en aandag aan die bron van die nuus te gee voordat dit verder die digitale ruimte ingestuur word.
Sanef het sy kommer uitgespreek oor die onrusbarende neiging dat fopnuuswebwerwe voortdurend onakkurate inligting onder die dekmantel van ware nuus publiseer. Sanef het die vals berig oor die dood van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu wat die ronde in sosiale media gedoen het ten sterkste veroordeel. Daar was ook vals berigte oor oudpres. Thabo Mbeki.
Sanef se voorsitter, Mahlatse Gallens, het aan Netwerk24 gesê sulke misleidende berigte deur webwerwe wat hulle as geloofwaardige nuusbronne voordoen, is uiters skadelik en pynlik vir die betrokkenes en hul gesinne. Die forum sal toepaslike stappe teen hierdie vals nuuswebwerwe in werking stel, omdat hulle groot skade aan geloofwaardige webwerwe en die nuusbedryf as geheel aanrig.
Gallens sê baie van hierdie vals nuuswebwerwe gebruik boonop doelbewus name soortgelyk aan dié van bestaande mediahuise en van hul kenmerke om hul lesers ’n rat voor die oë te probeer draai.
ENCA het gedurende Januarie hierdie 10 webtuistes se name bekend gemaak waarvoor mense versigtig moet wees.
• Live Monitor
• iMzansi
• Mzansi LIVE
• African News Updates
• Mzansi Stories
• News24-TV
• CitySun
• Gossip Mill Mzansi
• Pretorialive
Volgens News24 kan jy die volgende riglyne gebruik om fopnuus te identifiseer:
• Kyk of ander betroubare nuusbronne oor dieselfde storie verslag doen.
• Kyk na die “About Us” op die webblad of soek die webblad op snopes.com vir meer inligting daaroor.
• Kyk vir webtuistes wat eindig met “.com.co” omdat dit dikwels vals webtuistes is.
• Swak web-uitleg en die gebruik van hoofletters regdeur die berig.
• As die onderwerp jou kwaad maak is dit ‘n goeie idee om daaroor te lees op ander webtuistes.



