Motoriste gewaarsku teen kapings op R57 en R82
SASOLBURG. - Die Zamdela-polisie ondersoek tans verskeie voorvalle waar voertuie op die R57- en R82-roetes, wat verby Zamdela gaan, gekaap is.
Daar word vermoed dat kapers voertuie teiken wat verby die vier-rigting stop by Zamdela op die R57 en R82 ry, rigting Vereeniging/Koppies en Heilbron/Deneysville.
Die kapers staan daar en maak asof hulle voetgangers is wat op soek is na ‘n saamry geleentheid. Wanneer voertuie stop om aan hulle ‘n saamry geleentheid te bied word ‘n wapen op hul gerig en hul gedwing na die agter sitplek van die voertuig. Die kapers jaag dan weg en laai die slagoffer iewers langs die pad af.
Voertuie met slegs een bestuurder word die meeste geteiken. Motoriste word gevra om hul deure te sluit en vensters toe te maak wanneer hulle hier ry.
Enige persoon met inligting rakende die kapings kan ao. Leon De Klerk op 072 484 9046 of 016 974 6117 skakel.



