BlogsLifestyleLocal newsOpinions

Warren, Abe, Faf, en die familie-ding

Die skryfwer van dié rubriek, dr. Johan de Lange, is 'n bekende oogspesialis verbonde aan Ocumed-oogkliniek in Vanderbijlpark. Hy is ook 'n skrywer wat informeel kommentaar lewer oor die politiek, sport, kultuur, mediese sake en ander interessante onderwerpe wat mense daagliks raak.

 
Deur Johan de Lange

Hoekom wen die Goue Leeus hulle Superrugby-wedstryde?

Want hulle koppe is reg. Eintlik hulle harte.

Hoekom het hulle nie voorheen gewen nie? Want hulle was ‘n versameling jong mans wat woon in die mees kultuurverwarde en dus kultuurlose gedeelte van Suid Afrika: Johannesburg. Jozi.

Toe kom Akkers en Swys en hulle skep by al hierdie jong manne ‘n familiegees. Skielik is hulle nie meer alleen in die groot stad nie. Hulle het familie. Hulle leef vir mekaar en hulle speel vir mekaar. Toe begin hulle wen. Want dis lekker en dis emosioneel veilig. Daarby mag hulle dit geniet. Baie belangrik. Geniet dit.

Hulle het ‘n kaptein. Warren. Ouboet. Hy gee regtig om vir elkeen. Hulle voel dit. Hulle weet dit. Hy sal sy lewe vir elkeen van hulle gee. Hulle weet dit en hulle voel dieselfde oor hom. Daarom speel hulle vir hom en hulle wen vir hom.

Nou is Warren die Bokke se kaptein. Hy bly dieselfde omgee-mens. Die Bokke weet dit. Hulle speel vir hom. Daarom wen hulle. Die 169 duikslae wat hulle gemaak het, teenoor 58 van ‘n sterk Franse span, getuig van totale toewyding. Commitment en Attitude. Vir mekaar en vir Warren.

Daarteenoor die krieket.

Ek is ‘n groot bewonderaar van Abe. Een van die beste kolwers in die wêreld. Maar sy kapteinskap-rekord is nie te waffers nie. Hy is baie energiek en ek dink hy jaag die energievlakke van sy spelers heeltemaal te hoog op. “Go Boys go. Vandag móét ons verseker wen.”

Dit maak hulle gespanne en dan maak hulle dom foute.

Faf se rekord as kaptein lyk veel beter. Die Proteas het onder sy leiding agt uit die nege wedstryde gewen. Hy kalmeer die spelers. Dan ontspan hulle en hulle ware talente kom na vore.

Ek weet nie wat Faf sê nie, maar mens kan sy liggaamstaal lees. Hy is kalm en stabiel. Skep veiligheid. Waarskynlik skep hy die familie-gevoel. Hy is nie die span se superster nie, hy is die kaptein.

Abe doen dit nie.

Hy is die superster wat probeer om ook kaptein te wees. Hy jaag almal op hol en dit werk nie. Kyk maar na sy rekord. Hoe belangriker die wedstryd, hoe meer spanning skep hy. Dan verloor hulle. Hy probeer te hard.

Faf vir kaptein. Skep ‘n familie-gevoel, speel om dit te geniet en jy het ‘n wenspan.

 

 

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button