News

Boer in gesig geskiet tydens rooftog

'n Boer is in die gesig geskiet, 'n veiligheidsbeampte gewond, twee polisiebeamptes beseer in 'n ongeluk en vyf verdagtes gearresteer tydens 'n rooftog gisteroggend in Standerton

Dit alles het gisteroggend net na 08:00 in Standerton gebeur toe ‘n bende ‘n sigaretafleweringsvoertuig beroof het.

Maroela Media berig dat ‘n Toyota Carolla voor een van die bussies wat sigarette vervoer het, ingery het en dit gedwing het om te stop. Die tweede bussie het daarna in die voorste een vasgery. ‘n Veiligheidsvoertuig het die bussies vergesel.

Kort daarna was daar tussen 10 en 20 swaar gewapende mans wat in vyf ander voertuie ook daar stilgehou het.

Hulle het op die veiligheidsvoertuig geskiet en die bestuurder in die arm gewond. Hulle het die sigarette gevat en dit in hul Quantum-bussie gelaai.

Twee broers, wat in die omgewing boer het die roof van ‘n afstand dopgehou en ‘n veiligheidsmaatskappy, Kasselman-veiligheidsdienste daarvan verwittig.

Die rowers het op vlug geslaan, waarna die twee broers hulle agtervolg het en ander rolspelers op hoogte van sake gehou het. Toe hulle agterkom hulle word agtervolg het hulle op die broers se bakkie met AK47’s losgebrand. Die een broer is in die gesig, net onder die oog getref. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Die rowers het hulle in ‘n konvooi van veiligheidsbeamptes, polisie en buurtwagte vasgery. Skote het begin klap en van die verdagtes is vermoedelik gewond. Van die verdagtes het in die bosse in gehardloop, terwyl twee motoriste van hul voertuie gekaap is sodat die verdagtes kon vlug.

Twee polisiebeamptes is ook beseer toe hulle in ‘n ongeluk betrokke was oppad na die toneel.

Vyf mense is gearresteer.

Die ander verdagtes het dit reggekry om met die twee vragte sigarette weg te kom.

Die voorval word ondersoek.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button