Pla die ou rug en bene?
Maak só om 'n permit vir gestremde-parkering te kry
Retha Fitchat
Hoe gemaak as jy ‘n bejaarde (of jong) motoris is wat moeilik loop en graag op die parkering vir gestremdes of ma’s met stootkarretjies naby ‘n winkelsentrum se ingang wil parkeer?
Verskeie motoriste het Vaalweekblad die afgelope week geskakel om ‘n antwoord op dié vraag te kry nadat ‘n navraag hieroor in die briewe-afdeling van ‘n onlangse uitgawe verskyn het.
Vaalweekblad het ‘n versoek vir ‘n amptelike verduideliking hieroor aan die Emfuleni Munisipaliteit se verkeersafdeling gerig, maar tot dusver nie reaksie ontvang nie.
Verskeie bejaardes wat reeds daarin geslaag het om die nodige permit by hul munisipale verkeersowerheid te kry, het Vaalweekblad wel gekontak met die stappe wat jy moet volg om toestemming te kry.
Een van hulle, mnr. Chris Fourie, ‘n inwoner van Emfuleni, verduidelik die stappe: “Gaan sien jou plaaslike dokter hieroor. Die dokter moet jou kwale en probleme op ‘n verwysingsbrief skryf. Neem die brief dan na jou munisipale verkeersafdeling. Moenie gaan waar mense hul motorlisensies hernieu nie, maar waar mense hul boetes betaal. Gee jou doktersbrief daar in. ‘n Amptenaar word dan geroep, wat sal besluit of jou doktersbrief voldoende is. Indien wel, betaal jy dan R30 per jaar en kry die nodige permit.
“Die permit sal jou voertuigregistrasie en geldigheidsduur bevat. Indien jy meer as een voertuig het, sal ‘n fotostaat met die ander registrasie gemaak word, wat jy aan die binnekant van jou voertuig se voorruit moet vertoon wanneer jy van die spesiale parkering gebruik wil maak,” sê Chris.



