Alleenlopers, kom vind uit hoe die ander geslag se koppe werk
'n Kenner, prof. Ras van Niekerk, gaan interessante antwoorde gee op die tergende raaisels oor verskille tussen mans en vroue

VEREENIGING. – Seuntjies dra blou en dogtertjies pienk. Seuntjies speel met gewere, dogtertjies speel pop, en dié verskille word voortgesit in die twee geslagte se volwasse jare, né? Vroue hoort in die kombuis en mans op konstruksieterreine, of hoe? Verkeerd!
Vroulike argitekte, ingenieurs en dokters is aan die orde van die dag. Van die beste sjefs en haarkappers in die wêreld is mans! Wat gaan aan? Is mans nie meer rof, grof en onbeskof nie?
En moet vroue nie liewer huis-huis speel en stil en stemmig sit en borduur nie!
As jy ‘n alleenloper is en meer hieroor wil hoor, kom luister op Sondag 30 Julie na ‘n praatjie deur ‘n kenner op die gebied, prof. Ras van Niekerk, wat dié fassinerende vraag van nader gaan belig en interessante antwoorde gaan gee.
Volgens die organiseerder van die Vaaldriehoek se Alleengroep, Elsa du Toit, is alle alleenlopers welkom om die praatjie by te woon sodat hulle by voorbaat kan weet waarvoor hulle hul inlaat as hulle op hul “oudag” weer smoorverlief raak!
Dit vind om 14:00 by die Drie Riviere Methodiste Kerk in Kowiestraat 58, Vereeniging plaas.
Toegang is ‘n bordjie eetgoed.
Vir meer besonderhede, skakel Elsa by 083 666 8341.



