Skoolbus en drywer verdwyn – jongste nuus
Daar is steeds verwarring oor wat presies van die Laerskool Vaalrivier se verdwene skoolbussie en busbestuurder geword het. Lees die berig wat vandeesweek in Vaalweekblad se papieruitgawe verskyn het, saam met 'n opdatering onderaan die berig.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die Laerskool Vaalrivier se kommer oor hul sportorganiseerder, wat verlede naweek spoorloos saam met die skoolbussie verdwyn het, is besig om oor te gaan in totale verwarring, skok en ongeloof.
Talle mense het Saterdag gevrees dat mnr. Braam Botha (46) en die bussie gekaap en sy lewe in gevaar is, maar dit blyk nou dat ‘n ingewikkelde netwerk van bedrog moontlik by die verdwyning van mnr. Botha en die bussie betrokke kan wees.
Leerlinge en personeel het hul “Valie-bussie”, ‘n MB Sprinter, Vrydagmiddag 11 Augustus omstreeks 16:00 die laaste keer gesien toe mnr. Botha die skool se landloopatlete vanaf Hoërskool Suiderlig na Laerskool Vaalrivier se skoolterrein teruggebring het. Botha was veronderstel om die bussie daarna op sy normale staanplek te gaan parkeer.
Die skoolhoof, mnr. Henru Read, sê aan Vaalweekblad hy het eers Saterdagmiddag onraad vermoed toe Oscars, ‘n handelaar in die omgewing, by hom navraag gedoen het oor die betaling van 80 hamburgers en 20 worsbroodjies wat Saterdag by hulle bestel en opgelaai is. Oscars het aanvaar dat dit vir ‘n sportspan van die skool was, wat met die bussie sou reis.
Mnr Read het dadelik geweet daar is ‘n slang in die gras. Hy is vinnig na Oscars om ondersoek in te stel en het Braam Botha onmiddellik op die handelaar se geslotekring TV-opname herken, waar hy die voorbereide voedsel Saterdagoggend bestel het. Die bussie, die kos sowel as Botha het sedertdien soos groot spelde verdwyn.
Volgens mnr. Read is Botha die afgelope sowat twee maande as vrywillige rugby- en atletiekafrigter en informele bemarker by die skool betrokke. Terwyl daar gewag is op die koms van die nuwe adjunkhoof, was Botha op ‘n maand-tot-maand basis betrokke maar nooit amptelik in die skool se diens nie.
Hy het geen akademiese take verrig of klasse aangebied nie, maar aangesien die skool min manlike personeel het, was die ekstra paar hande van dié vriendelike en innemende man baie welkom. Dit blyk egter nou dat verskeie polisiestasies na ‘n man wat aan Botha se beskrywing voldoen, op soek is en dat die persoon glo voorheen reeds op grond van diefstalklagte gearresteer is.
“Gelukkig het die skool se kinders baie min met Braam te doen gehad, dus laat sy verdwyning nie ‘n groot leemte nie, maar vir ons as ouers is dit moeilik om die gebeure te begryp,” sê ’n ma van een van die leerlinge.
“Braam het elke Sondag saam met ons in die kerk gesit. Hoewel hy effens geheimsinnig was oor sy gesin en familie, was hy nog altyd net aangenaam en vriendelik teenoor almal. Hy het’n gawe glimlag en het in die kort tyd wat hy sy dienste by die skool aangebied het, reeds ‘n hele paar vriende gemaak en onder ‘n mens se vel begin inkruip,” sê sy.
Die polisie ondersoek ‘n klag van diefstal. Teen Vaalweekblad se saktyd was daar nog geen spoor van die bussie óf Botha nie.
OPDATERING: Die bussie is intussen glo in Kempton Park opgespoor – sonder enjin en erg gevandaliseer, maar van Braam Botha is daar steeds geen tyding nie. Die polisie-ondersoek gaan voort. Enigiemand met inligting oor die voorval kan die Laerskool Vaalrivier se skoolhoof, mnr. Henru Read, by 0832272912 skakel.




