News

Agt vas vir beweerde bedrog by Johannesburgse metromunisipaliteit

Agt werknemers van die Johannesburgse metromunisipaliteit sal na verwagting Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn in verband met beweerde bedrog van R2,4 miljoen.

Die werknemers, ses vroue en twee mans, is Vrydag deur lede van die Valke in hegtenis geneem.

“Die verdagtes het na bewering bedrieglike briewe geskep waarin uitstaande terugbetalings van die Stad Johannesburg geëis word. Die briewe is geskep deur ʼn regsfirma se briefhoof te gebruik en is geskryf asof dit namens geaffekteerde inwoners aan die munisipaliteit gestuur word,” het kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die werknemers het toe die terugbetalings prosesseer en die geld in hul bankrekenings inbetaal. Altesaam R2,4 miljoen is op so ’n wyse geplunder.”

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê die aantal verdagtes betrokke by die beweerde bedrog kan vermeerder soos die ondersoek voortgaan. Hy het gesê in sommige voorvalle het eiendomseienaars met die stadsamptenare saamgesweer om opgeblase eise in te dien.

Die ondersoek wat die beweerde bedrog oopgevlek het, is van stapel gestuur nadat Nedbank die stad se finansiële departement in kennis gestel het van onregmatige betalings wat in Oktober verlede jaar in een van hul kliënte se bankrekenings inbetaal is. Mashaba het gesê die bank het drie afsonderlike onregmatige betalings van R291 000, R281 000 en R86 000 in die bankrekening geïdentifiseer.

BRON: Independant Online

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button