“Man wat moeg is om menslvleis te eet” in hof saam vier ander
Die vyf mans wat in hegtenis geneem is ná ʼn man by die Estcourt-polisiestasie in KwaZulu-Natal ingestap en aan polisiebeamptes gesê het hy “is moeg om mensvleis te eet”, het Maandag in die Estcourt-landdroshof verskyn.

Natasha Kara, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê die verdagtes het op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg verskyn.
Aanklagte van die besit van menslike oorskot kan moontlik bygevoeg word wanneer die ondersoek afgehandel is.
Die man wat by die polisiestasie ingestap het, het ook ʼn deel van ʼn mens se been en ʼn hand te voorskyn gebring terwyl beamptes hom ondervra het. Die man is daarna in hegtenis geneem. DNS-monsters is van die ledemate geneem en vir DNS-toetse gestuur.
Die verdagtes wat Maandag in die hof verskyn het, is Khayelihle Lamula, Nino Mbatha, Sthembiso Sithole, Lindokuhle Masondo en Lungisani Magubane.
Die saak is tot 28 September uitgestel vir nadere ondersoek.



