News
Só gaan dit met Werner
Die een oomblik was hy nog ‘n gesonde jong seun en die volgende oomblik lê hy in die intensiewe-sorgeenheid van die Cormed-kliniek met dubbele longontsteking en nierversaking.
Werner Pfahl (13) is in die intensiewe-sorgeenheid opgeneem na hy met dubbele longontsteking gediagnoseer is. Hy moes dringend dialise ontvang omdat die virus sy organe begin aantas en sy niere reeds begin ingee het.
Hy het egter gister vir die eerste keer dialise ontvang en vandag is sy bloeddruk normaal asook sy koors, hartklop, suurstof en vog in sy liggaam. Sy nierfunksie het opgetel en die infeksietelling het tot by 95 afgeneem.
Werner se pa, Tinus, het hom verlede Vrydag na die Kopanong-hospitaal geneem omdat hy die vorige dag begin hoes en hoë koors gehad het. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar teen Saterdag het hy skaars behandeling ontvang. Werner se familie kon egter nie toekyk hoe hy in die hospitaal lê en agteruit gaan nie en moes noodgedwonge elders hulp gaan soek. Werner is toe in die Cormed-kliniek opgeneem.
Werner behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en familie en vriende het aan die werk gespring om fondse vir hom in te samel.
Hy is een van vier kinders. Sy suster Alicia is 16 en sy twee broers, Theuns en Johan is onderskeidelik 11 en 9.
“Ons glo en vertrou Werner sal gesond word. Ons is almal baie opgewonde oor die Here se wonderwerke,” sê Tinus.
Werner se familie bedank elkeen wat hulle in die moeilike tyd ondersteun en hom in hul gebede opdra. Hulle bedank in besonder die Cormed-kliniek en sy personeel vir hul puik diens en dat hulle met soveel omgee na Werner omsien.
Enige persoon wat ‘n bydrae wil maak sodat Werner dialise kan ondergaan kan die volgende bankbesonderhede gebruik:
FNB
LJ Coetzee
Rek nr: 62619932834
Verw: Werner Pfahl
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



