News

Koop ‘n cupcake vir agtjarige-kankerlyertjie

VEREENIGING. - Een van die grootste vrese vir enige ouer is seker om te hoor jou kind het kanker…. ongelukkig moet jy maar die realiteit vierkantig in die oë kyk wanneer jy die skoknuus ontvang.

Dit was vir Monique Strydom, ‘n blondekop groen-oog leerling van Laerskool Risiville, se ouers ‘n geweldige skok toe hulle uitvind hul oudste meisiekind het kanker.

Monique het sowat ‘n maand gelede begin kla oor ‘n pyn in haar buik, maar hulle het gedink sy het dalk ‘n spier seergemaak toe sy saam met maatjies gespeel het. Volgens Eleanor, Monique se ma, het dit nie beter geword nie en het sy besluit om die raad van ‘n fisioterapeut te kry, sodat hulle kon weet watter behandeling om toe te pas.

“Die fisioterapeut het gesê dit is nie ‘n spier nie, en ons het haar toe gevat om ‘n sonar te neem en vandaar het ons die pad begin stap,” sê Eleanor. Monique is met Wilms se gewas (Wilm’s Tumor) gediagnoseer. Dit is ‘n nierkanker wat een van die mees algemene tipe kankers is wat by kinders voorkom en elke 1 uit 10 000 kinders tussen die ouderdom 3 tot 5 jaar word daarmee gediagnoseer.

Monique moet nou vir agt weke chemoterpaie-behandeling ondergaan, waarvan sy reeds twee weke agter die rug het. Daarna sal dokters kyk hoeveel die gewas gekrimp het om sodoende die gewas deur middel van ‘n operasie te verwyder.

Ongelukkig kan hulle nie net die gewas verwyder nie, maar hulle moet ook haar linkernier verwyder sodat die kanker nie later weer terugkom nie. Sy het redelik pyn, maar sy hanteer dit goed. Sy sukkel net om te eet, maar ons glo en vertrou dit sal beter gaan.”

Na die operasie moet sy weer chemoterapie-behandeling ondergaan. Monique en haar ma bly in die CHOC-huis (Childhood Cancer Foundation South Africa) wanneer sy behandeling kry, verder ry hulle tussen die huis en hospitaal. Eleanor moes ook ophou werk omdat Monique heeltyd iemand by haar moet hê. Tinus, Monique se pa, is die eienaar van Kfit Midvaal.

Monique moes ook haar skoolloopbaan tydelik prysgee. Sy sal in alle waarskynlikheid eers weer in die tweede kwartaal van 2018 terugkeer  skool toe. Sy is die oudste van twee dogters, haar jonger sussie, Mishanay is vier jaar oud.

Monique behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en op 22 September word daar ‘n Go Gold for Monique Cupcake-dag gehou. Henriette Marx, eienaar van Coffee Excellence en een van die stigters van die Red Pepper Kids-organisasie, daag besighede en skole in die Vaaldriehoek uit om die inisiatief te ondersteun. Die goue Cupcakes word teen R10 een verkoop en by jou besigheid of skool op die dag afgelewer. Alle fondse wat ingesamel word, sal gebruik word om Monique te ondersteun en twee ander kinders van die Vaaldriehoek wat die stryd teen kanker aansê (‘n tienerseun van Vanderbijlpark en ‘n graad 1-dogtertjie van Meyerton.)

Koffie-liefhebbers kan ook ‘n houer Cup A Ground by Coffee Excellence tot 22 Septemeber teen R150 per houer bestel, waarvan R30 vir die Go Gold for Monique-projek geskenk sal word.

Besighede en skole wat Cupcakes wil bestel kan 082 561 5266 of 016 422 8087 skakel of ‘n e-pos na info@redpepperkids.co.za stuur.

 

Tekens en simptome van Wilms se gewas:

  • Swelling in die buik
  • Pyn in die buik
  • ‘n Massa kan in die buik gevoel word
  • Koors
  • Hematurie in die bloed of uriene

 

Kyk gerus die video vir meer inligting oor die Go Gold for Monique-projek

https://www.facebook.com/www.coffeeexcellence.co.za/videos/1994656914147976/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button