Vaal groet een van sy groot geeste
VEREENIGING. – Vir meer as vyf dekades kon die Vaaldriehoek spog met een van die mees talentvolste, bobaas rugbystutte wat die destydse Transvaalspan nog opgelewer het. Mnr. Piet Bosman, voormalige Transvaal-kaptein en speler van drie Curriebeker-eindstryde, het op 6 September, in die ouderdom van 78, die stryd teen Alzheimer se Siekte verloor en laat daarmee ‘n groot leemte in die Vaaldriehoek.
Mnr. Bosman het in 1962, vars uit universiteit met ‘n B.Com.Hons. in Kosteberekening, sy eerste spore in Vereeniging getrap. Hy het by die Vereeniging Rugbyklub aangesluit en sy loopbaan as bedrewe rugbyspeler voortgesit.
Hy het van 1962 tot 1973 stut vir dié klub gespeel, waarvan hy die laaste nege jaar ook die kaptein was.
In mnr. Bosman se speeldae was hy deel van een van die gedugste voorrye wat die destydse Transvaal-rugbyspan (Goue Leeus) toe nog opgelewer het. Vir 56 wedstryde het hy vir Transvaal uitgedraf en in drie Curriebeker eindstryde gespeel.
‘n Hoogtepunt van mnr. Bosman se rugbyloopbaan was toe Transvaal in 1972 as wenners uit die Curriebeker eindstryd, teen die destydse Oos-Transvaal getree het. “Ons het kameraderie opgebou en vriende gemaak wat ons lewenslank sal onthou,” het hy tydens sy en sy vrou mev. Thorina Bosman se 50ste huweliksherdenking gesê.
Mnr. Bosman het egter nie die geliefde sport eenkant toe geskuif toe hy nie meer self op die veld uitgedraf het nie. Hy was daarna afrigter vir die Vereeniging Rugbyklub en die Vaaldriehoekspan, voorsitter van die Vereeniging Rugbyklub en later jare ook president van die klub, asook die Vaaldriehoek Rugby-unie.
‘n Groot eer het hom te beurt geval toe hy sy ere lewenslange presidentskap van die Vereeniging Rugbyklub ontvang het. Hy was 55 jaar lid van dié klub.
Soos rugby in mnr. Bosman se bloed was, is dit ook in die bloed van sy kinders en kleinkinders. Sy jongste seun, mnr. Duitser Bosman is die openbare gesig van die uiters gewilde én suksesvolle FNB Varsitybeker-reeks, aangebied deur Steinhoff International. Hy en die voormalige Springbokflank, Francois Pienaar, het dié gesogte rugbyreeks gestig. “Ek het bykans alles oor rugby by my pa geleer, waarvan die belangrikste was om die etos van die spel te beskerm,” sê hy.
Mnr. Bosman se oudste seun, Koos Bosman, volg ook in sy pa se voetspore. Hy is tans die voorsitter van die Vereeniging Rugbyklub en sy seun, Koos jr. speel agsteman vir die span. Sy ander seun Pieter is mede-afrigter vir die o.21-rugbyspan van die klub.
Behalwe vir wyle mnr. Bosman se liefde vir rugby was hy ook ‘n suksesvolle sakeman. Sy besigheid, Bosman Transport, was destyds een van die grootste vervoermaatskappye in die Vaaldriehoek. Hy het ook sy vrou, Thorina ondersteun waar sy betrokke was by musiek en kultuur en verskeie konserte.
My pa was baie betrokke by die gemeenskap. Sy liefde vir sy medemens sal my altyd bybly. Hy het nooit onderskeid tussen mense getref nie. As familie bedank ons die gemeenskap wat hom so liefgehad en in die laaste tyd ondersteun het,” sê Koos sr. Wyle mnr.
Bosman het die afgelope drie jaar ‘n stryd teen Alzheimer’s gevoer. Hy was die laaste 14 maande in die Avondrus-afreeoord se versorgingseenheid en is op 6 September oorlede. Sy begrafnis het Vrydag, 15 September, vanuit die NG Kerk Drie Riviere-Oos in Palmstraat plaasgevind.
Hy laat sy vrou, Thorina, twee seuns, Koos en Duitser, dogter Marthie, twee kleinseuns, vier kleindogters en een agterkleinseun, wat ook na hom vernoem is, na.



