Predikant neem sy lewe na besluit om onthef te word
Uittreksel uit 'n berig wat verlede week in Vaalweekblad verskyn het

Retha Fitchat
VEREENIGING. – “Ons predikant se lewe is verwoes en nou is hy dood. As ons net kan verstaan wat met hom gebeur het en waarom, kan hier dalk genesing en vergiffenis in ons gemeente kom.”
Só verwoord ‘n lidmaat van die die Nederduitch Hervormde Kerk (NHK) in Duncanville die mening van talle medelidmate nadat hul predikant, ds. Werner Mans (41), homself verlede week by sy ouerhuis in Centurion opgehang het.
Dié skokkende gebeure het gevolg nadat ds. Mans ‘n paar maande gelede gevra het om mediese emiritaat tydens ‘n vergadering van die Algemene Kommissie van die NHK. Hy is toe van sy pligte as predikant onthef en op siekteverlof geplaas sodat hy op sy gesondheidheid kon fokus.
Lidmate van die NHK Duncanville sê hulle was geskok om een Sondagoggend, sowat drie maande gelede, in die kerk te hoor dat ds. Mans op siekverlof geplaas is en ‘n ander predikant voortaan die dienste gaan waarneem. Van die lidmate beweer nou dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie, dat daar nie ‘n behoorlike klagstaat was nie en dat verskeie lede van die kerkraad nie vooraf oor die besluit ingelig is nie.
“Wou iemand net van ds. Mans ontslae raak? Waarom is ons lidmate nie behoorlik ingelig nie? Dit voel vir ons of hier ‘n agteraf gekonkel was,” is van die lidmate se mening.
Van die lidmate beweer dat verskeie kerkraadslede intussen uit simpatie met ds. Mans bedank het en dat sowat die helfte van die gemeentelede na ander NHK-gemeentes of ander kerkgenootskappe oorgeloop het.
Min lidmate in die gemeente het egter geweet van die intense stryd wat ds. Mans die afgelope jare teen depressie gevoer het.
Nadat klagtes die Ring van die NHK in Vereeniging bereik het dat ds. Mans soms onsamehangend van die preekstoel af gepraat het of impulsiewe uitlatings gemaak het, is die situasie ondersoek. Hy het aan verskeie gemeentelede sowel as aan die Ring onthul dat hy aan bipolêre depressie ly.
“Ds. Mans het tydens ‘n gesprek met die Ringskommissie van Vereeniging te kenne gegee dat die gemeente Duncanville onder geweldige finansiële druk was. In oorleg met die Ringskommissie en die Algemene Kommissie is die kerkraad van die gemeente Ducanville na ‘n deeglike ondersoek aanbeveel om die volsorg-standplaas in ‘n deelsorg-standplaas te verander. Ds. Mans is toe beroep na die deelsorg-standplaas en hy het die beroep aangeneem. Sy werksweek is tot drie dae ‘n week verkort, wat baie van sy stres kon verlig en sodat hy meer tyd met sy familie kon deurbring, wat vir hom ‘n hoë prioriteit was,” sê ds. Barry van Schalkwyk, voorsitter van die NHK se Ring in Vereeniging.
“Die situasie het egter nie verbeter nie en ds. Mans is weer opgeroep vir ‘n gesprek deur die Algemene Kommissie. Hy het aangedui dat sy gemoedstoestand versleg het en het versoek om met mediese ongeskiktheid af te gaan. Die Kerk het hom met groot deernis hanteer en die Kommissie het onderneem om saam met hom die pad te stap. Ds. Mans was duidelik verlig dat die stresvolle werkslas van sy skouers af was. Hy sou sy traktement elke maand ontvang, totdat hy deur die versekeringsmaatskappy medies ongeskik verklaar sou word,” sê ds. Van Schalkwyk.
Ds Mans moes die pastorie mettertyd ontruim en het by sy bejaarde ma, met wie hy ‘n hegte band gehad het, in Centurion gaan woon. Sy vrou en 8-jarige dogtertjie het nooit in die pastorie gewoon nie en het reeds jare gelede na sy skoonfamilie aan die Rand verhuis.
“Hy was so ‘n sagte, liefdevolle mens. Baie van ons het in dié tyd selfoonboodskappe van hom gekry dat hy lief is vir ons en hoeveel hy ons mis. Hy het ook gesê dat hy baie eensaam was en soos ‘n nuttelose mislukking gevoel het,” sê ‘n lidmaat.
Verlede Donderdag het hy skynbaar finaal geknak en homself by sy ouerhuis opgehang.
“Ons harte is so seer. Hy het sy lewe aan die Here gewy en sy preke kon mens ‘n hele week voedsel vir jou siel gee. Op die oomblik voel dit of niks in ons kerk ooit weer dieselfde gaan wees nie. Ons bid maar baie. Dalk kan dinge weer regkom. By die Here is niks onmoontlik nie,” sê nóg ‘n lidmaat.






