NewsNews

Doktor se skriknag in polisieselle

VANDERBIJLPARK. - Jy is ‘n rolmodel in jou gemeenskap; ‘n gerekende akademikus verbonde aan ‘n groot universiteit. Doktorsgraad agter jou naam.

VANDERBIJLPARK. – Jy is ‘n rolmodel in jou gemeenskap; ‘n gerekende akademikus verbonde aan ‘n groot universiteit. Doktorsgraad agter jou naam. Jy is ‘n wetsgehoorsame burger wat die reguit pad loop. Dit vrywaar mens sekerlik daarvan om onverwags deur die polisie voorgekeer, gearresteer en aangehou te word. Reg? Verkeerd.

Dit is presies wat ‘n paar maande gelede met dr. Charles van Vanderbijlpark gebeur het. (Hy het versoek dat sy en sy vriendin se vanne nie gepubliseer word nie). Charles, verbonde aan die Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus), moes die nag van 12 Januarie vanjaar in skrikwekkende omstandighede in polisieselle deurbring nadat hy en sy vriendin, Janie, deur die polisie voorgekeer en hy uit die bloute van dronkbestuur beskuldig en in hegtenis geneem is.

Hoewel Charles en Jani aanvanklik te getraumatiseer was om openlik oor die voorval te praat, het hulle intussen besluit om hul skokervaring met die publiek te deel. Hulle wil hê ander mense moet beter voorbereid wees op so ‘n nagmerrie as wat hulle was. Jani het verlede week by ‘n ope vergadering van die Vanderbijlpark Sakekamer vertel hoe dié nag, wat vir altyd in hul geheue ingebrand is, verloop het. Ook hoe dit hul vertroue in die polisie as die beskermers van wetsgehoorsame mense, vir altyd nek-omgedraai het.

Die paartjie het die aand by ‘n bekende restaurant in SW5 gaan eet. Dit was ‘n weeksaand en Charles het net een biertjie gedrink – heelwat minder as die toegelate maksimum om te mag bestuur. So teen 21:30, digby die groot bushalte in Frikkie Meyer-boulevard op pad huis toe, was die polisie se blou ligte daar. Charles is kortaf beveel om uit te klim. Die polisie wou weet hoeveel hy gedrink het. Hulle het sy spanning oor die situasie vermoedelik as arrogansie aangesien en hom beskuldig dat hy “hardegat” is. Toe die polisie boonop neerhalende rasse-aanmerkings oor witmense begin maak, het Jani besef hier kom moeilikheid. Sy het dadelik ‘n prokureursvriendin geskakel wat hulp sou reël, maar Charles is intussen geboei en in ‘n vangwa gelaai. Die polisie het gesê hulle gaan bloedtoetse laat doen maar wou nie sê waarheen hulle hom neem nie.

Jani is alleen by hul motor naby die pikdonker bushalte agtergelaat, te verdwaas om te weet wat om volgende te doen. Na oproepe aan haar pa en vriende het almal bystand kom verleen maar niemand kon aanvanklik uitvind wat van Charles geword het nie. Charles, op sy beurt, was rasend van kommer oor Jani, waar hy intussen in die Vanderbijlpark polisieselle saam met drie moordverdagtes, ‘n vermeende verkragter en ‘n man wat drank gesteel het, opgesluit is. Met die hulp van vriende en ‘n predikant kon Charles en Jani uiteindelik afsonderlik gerusgestel word dat albei “okei” is.

“Ons is deur die loop van die aand twee keer ‘n geleentheid gebied om omkoopgeld vir Charles se vrylating te betaal. Eers R250 en later R1 000. Die versoeking was groot, maar gelukkig het ons nie geld by ons gehad nie,” sê Jani. Charles is gedurende die nag na Sebokeng geneem, waar sy bloed getrek is. Omstreeks 03:30 die oggend is hy uiteindelik vrygelaat met die opdrag om weer 09:00 by die polisiekantore aan te meld. Daar moes hulle hoor dat die saak maande of selfs jare kan duur vir die uitslag.

“Dié uitsteltaktiek is eintlik vir ons nog erger as die aand se arrestasie,” sê Jani. Al weet hulle dat Charles nie gedrink was nie, hang ‘n swaard dus steeds oor sy kop, wat verhoed dat hulle dié skriknag kan verwerk en agter hulle kan plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button