NewsNews

Hoe gemaak as jy gearresteer word?

Wat is die publiek se regte as jy deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem word?

Wat is die publiek se regte as jy deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem word?

Dié vraag was verlede week onder die vergrootglas by die maandvergadering van die Vanderbijlpark Sakekamer waar dr. Charles en sy vriendin se ontstellende ervaring met die polisie, bespreek is. Die belangrikste om te onthou, sê adj.offisier Kobus Visser, is om in sulke omstandighede jou volle samewerking aan die polisie te gee.

“Elke situasie is uniek. Dié soort voorvalle kom meer in die aand voor. “As die polisie jou in ‘n donker omgewing wil aftrek, vra toestemming om na die naaste helder verligte motorhawe, winkelsentrum of polisiekantoor te mag ry. ‘n Goeie polisieman wat sy werk deeglik en eerlik wil doen, sal dit begryp en toelaat. Sit jou noodflikkerligte aan en ry dan baie stadig, so 40 kmpu, sodat dit duidelik is dat jy nie probeer wegjaag nie.

“As die situasie jou bekommer en verdag lyk, skakel enigiemand na aan jou wat dalk hulp kan kom verleen, of bel jou sektorpolisie se selnommer en verskaf die betrokke polisievoertuig se registrasienommer. “Moenie self uit jou voertuig klim nie. Wag vir die polisielid wat jou afgetrek het se instruksies en gee jou volle samewerking. Jy is geregtig om te vra dat die polisielid homself identifiseer en hy of sy behoort ook ‘n naamplaatjie en polisiepersoneelkaart te kan toon.

“Indien jy in hegtenis geneem word, het jy die reg om te weet op grond waarvan, en jou regte moet dan ook aan jou voorgelees word,” verduidelik hy.
Watter reëls geld wanneer jy in hegtenis geneem word op grond van vermoedelike dronkbestuur sodat jou bloed getoets kan word? Hoe gou na jou arrestasie moet dit gedoen word? En mag jy aanbied om dit in die teenwoordigheid van ‘n polisielid by ‘n privaathospitaal te laat doen?

“Wanneer jy in hegtenis geneem word, is jy onder toesig van die staat en die bloedtoets moet dus by ‘n staatsinstansie deur ‘n toegewysde persoon gedoen word. “Jy mag wel jou eie dokter of privaatinstansie versoek om terselfdertyd ‘n afsonderlike tweede toets te kom doen. Dit moet binne twee ure nadat jy gearresteer is, gedoen word,” sê a.o. Visser.

Die bloedmonster moet in jou teenwoordigheid geseël en jou naam en ‘n kodenommer buiteop aangebring word. (In die doktor se geval is sy bloedmonster nie in sy teenwoordigheid geseël nie). Konst. Stefan van den Berg het by Donderdag se byeenkoms afgesluit dat lede van die publiek nie ‘n gespanne situasie tydens ‘n inhegtenisname moet vererger met uitlokkende uitsprake of kritiek wat ‘n kil polisieman se houding verder kan laat verhard nie.

Indien die polisieman jou uitlok met rassistiese of ander beledigende uitsprake, moenie daarop reageer nie. Beskerm en handhaaf jouself in daardie situasie en kla hom of haar liewer agterna aan. By elke polisiestasie is daar ‘n afdeling wat spesiaal aangewys is om sulke sake teen polisielede te ondersoek, en jy het ook die reg om die stasiebevelvoerder te gaan spreek as jy voel dat jou menseregte geskend is.

* Het jy enige vrae van dié aard wat jy aan die polisie wil stel? Stuur ‘n SMS aan Vaalweekblad en die polisie sal dit beantwoord. Begin jou SMS met “SAPD”, gevolg deur jou vraag. Voeg verkieslik jou naam en van by om ons terugrapportering te vergemaklik, maar jy kan anoniem bly as jy dit verkies. Vaalweekblad waarborg dat ons jou identiteit sal beskerm. SMS’e kos R1-50 elk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button