Swartbaar-wêreldkampioenskappe word op Vaalrivier gehou (Fotos en Video)
Swartbaar-wêreldkampioenskappe word op Vaalrivier gehou

VANDERBIJLPARK. – Hengelaars gaan die week op die Vaalrivier sake uitspook by die 13de swartbaar wêreldkampioenskappe wat vanjaar op die Vaalrivier by die Emerald Resort en Casino plaasvind.
13 lande, 39 bote en 78 deelnemers gaan vanaf Donderdag 5 tot Saterdag 7 Oktober die waters van die Vaalrivier vanaf die Barrage tot bo in die rivier aandurf om na die swaarste swartbaar in die rivier te soek. Dit is ‘n afstand van bykans 52 kilometer. Spanne het reeds oor die naweek in die land aangekom en het Maandag 2 Oktober geregistreer. Gister en vandag was die hengelaars reeds vroegoggend op die water om te oefen. Die South African Bass Angling Association (SABAA) is vanjaar die gasheer van die kampioenskappe.
Elke span bestaan uit ses lede. Elke boot het twee hengelaars met een skipper. Drie groepe van 13 bote word vyf minute uitmekaar in die rigting van die hengelaars se keuse op of af in die rivier na die Barrage geneem. Lede van die publiek is welkom om te kom kyk hoe die bote om 07:00 vertrek en om 16:00 te kom kyk as daar ingeweeg word. Die prysuitdeling vind Saterdagaand by ‘n funksie in die banketsaal by die Emerald plaas.
* Hou gerus vaalweekblad.com dop vir meer inligting, foto’s en video’s.




