Akademia besoek VSA om nuwe denkskool in SA te vestig
Verteenwoordigers van Akademia vertrek vandag na die VSA om te gaan kyk hoe opvoeding en opleiding gekombineer word by 'n paar vooraanstaande universiteite daar.

Akademia onderneem van 7 tot 17 Oktober 2017 ‘n akademiese toer na die Verenigde State van Amerika om ‘n aantal kolleges en universiteite te besoek wat spesifiek ‘n samehang van beide opvoeding en opleiding nastreef. Hierdie benadering ontbreek tans in Suid-Afrikaanse universiteite, wat oënskynlik slegs op opleiding gefokus is. Die doel van Akademia se Amerikaanse besoek is om ‘n dieper begrip vir dié holistiese benadering en die organisatoriese aspekte daarvan te verkry, aangesien Akademia juis so ‘n denkskool in Suid-Afrika vestig.
Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, pak die toer saam met die instelling se registrateur, Liana Venter, adviesraadslid prof Danie Goosen, asook ‘n aantal ander belanghebbendes binne die Solidariteit Beweging aan. Die afvaardiging gaan die Hankammer Sakeskool aan Baylor Universiteit, Hillsdale College en Grove City College besoek.
Prof Goosen verduidelik dat Akademia se opvoedingsdoel geanker is in die strewe om aan studente ‘n geïntegreerde beeld op die werklikheid te bied, in navolging van die denkskool wat opvoeding (as interdissiplinêre begrip vir hoe die werklikheid
inmekaarsteek) én opleiding (as vakspesifieke kennis en kundigheid) vooropstel. “Anders geformuleer, die doel is om die studente daartoe te lei om hulself as deel van ‘n groter idee-historiese verhaal, wat strek vanaf die verlede na die toekoms, te verstaan.”
Volgens prof Goosen ontbreek hierdie doel vandag aan die meeste universiteite wêreldwyd, waar daar ‘n oordrewe fokus op opleiding, ten koste van die rigtinggewing van opvoeding, is. Daarom word nie net hulle funksie ernstig bevraagteken nie, maar word die belangrikheid van tersiêre instansies wat nie slegs burokraties te werk gaan nie ook onderstreep.
“Hierdie kwessie sal in die hart van die gesprekke staan met die universiteite wat ons gaan besoek. Die een enkele vraag is hoe lyk ‘n universiteit wat so ‘n geïntegreerde beeld op die werklikheid as doel najaag.”
Tydens die besoeke aan die onderskeie kolleges en universiteite gaan Akademia se afvaardiging met senior bestuurslede en akademici van die Amerikaanse instellings ontmoet en gesprek voer oor dié instellings se visie, missie en opvoedkundige posisie. Ander onderwerpe wat bespreek gaan word sluit in die ontwikkeling van toepaslike fasiliteite, studente se ervaring van hul opleiding en hoe die instelling se akademiese en bestuurstrukture funksioneer.
Akademia het ten doel om die kulturele en wetenskaplike voordele wat akademiese opleiding inhou binne die Afrikaanssprekende gemeenskap se bereik te bring en om internasionale akademiese skakeling te fasiliteer. Die instelling streef daarna om ‘n universiteit te word wat rondom die integrasie van rede, geloof, gemeenskap en die individu binne ‘n Christelike tradisie georganiseer is.
Hoewel Akademia se onderrigmodel tans op hoëtegnologie-afstandsleer fokus, is die vestiging van ‘n residensiële universiteit ook in die vooruitsig gestel, om saam met die afstandsonderrigmodel te funksioneer. Die beoogde residensiële kampus sal vernaam daarop toegespits wees om afgeronde studente – opgelei met vakkundigheid en opgevoed in interdissiplinêre samehang – in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te lewer.



