NewsNewsUpdate

Seun (10) in fratsongeluk gewurg

VANDERBIJLPARK. - ‘n Vanderbijlparkse pa kon Maandagaand wonderbaarlik sy seun se lewe red nadat hy in ‘n fratsongeluk in die kabels van ‘n kinderswaai verstrengel geraak en byna verwurg het.

Berig in Vaalweekblad van 11 Oktober. ( ‘n Opvolgberig wat in Vaalweekblad van 18 Oktober verskyn, volg onder).

Quinton Meyer (10) se hart het reeds gaan staan toe sy pa, Nico, op hom afgekom het. Nico het dadelik hartmassering en mond-tot-mond asemhaling toegepas tot Quinton se hart weer begin klop het. Paramedici van ER24 was ook gou op die toneel om die noodbehandeling voort te sit en Quinton hospitaal toe te neem vir verdere gevorderde mediese sorg. Quinton, ‘n graad 4-leerling aan die Laerskool Totius, en van sy maats het Maandagnamiddag glo op die swaai gespeel toe die fratsongeluk gebeur het. Hy is na die voorval in ‘n Vanderbijlparkse hospitaal opgeneem en intussen na ‘n Randse hospitaal oorgeplaas, waar ‘n breinskandering reeds gedoen is. Dit blyk dat sy brein erg geswel is, maar dat daar in dié stadium nie opsigtelike permanente breinskade is nie, sê die ma van een van Quinton se skoolmaats. Hoewel hy nog nie ten volle by sy bewussyn is nie, reageer hy wel op sy ouers, pa Nico en ma Esmeralda, se stemme. Vaalweekblad het gister (Dinsdag) onsuksesvol probeer om sy ouers telefonies te bereik vir meer inligting, maar volgens vriende is hulle die hele tyd in die hospitaal by Quinton. Die ouerpaar het ook gebedsversoeke op sosiale media en WhatsApp laat plaas en ER24, in besonder die paramedici Coenraad en Riaan wat op die toneel behandeling verskaf het, bedank.

Opvolgberig(18 Oktober 2017)

Skrikverhaal met ‘n goeie einde
VANDERBIJLPARK. – Dit gaan soveel beter met Quinton Meyer, die graad 4-leerling wat verlede week byna verwurg het terwyl hy op ‘n kinderswaai gespeel het, dat hy reeds weer terug is op die skoolbanke.
Vaalweekblad het verlede week berig dat Quinton (11) op die swaai gespeel het toe sake lelik skeefgeloop en sy kop en nek in die kabels verstrengel geraak het.

Quinton kon homself nie loswikkel nie en kon ook nie asem haal nie. Hy was reeds besig om sy bewussyn te verloor toe sy sussie, Makayla (13), besef het daar was groot fout en dadelik vir Pa Nico gaan roep het om te kom help. Nico het dadelik noodbehandeling op Quinton begin toepas en vasgestel dat sy seun se hart reeds gaan staan het. Nico het mond-tot-mond-asemhalling en hartmassering toegepas totdat ER24 se paramedici oorgeneem het.

Quinton is in ‘n bewustelose toestand vanaf Mediclinic Emfuleni na ‘n Randse hospitaal oorgeplaas, waar toetse gedoen en vasgestel is dat sy brein geswel was.
Hoewel medici sy ouers verseker het dat daar geen opsigtelike tekens van breinskade was nie, kon hulle nie weet of Quinton enige nagevolge sou oorhou voordat hy eers weer sy bewussyn herwin nie.

“Daardie nag 02:00 toe hy begin bykom, het ek hom dadelik verskeie vrae begin vra om vas te stel of hy normaal reageer. Hy kon al my vrae normaal beantwoord. Daar was gelukkig geen breinskade nie,” sê sy verheugde ma, Esmeralda.

Quinton kon ‘n dag later uit die hospitaal ontslaan word en is weer sy energieke self. Sy ouers bedank die ER24-paramedici wat hulle bygestaan het, sowel as almal wat na die skrikvoorval vir Quinton gebid het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button