VANDERBIJLPARK. – “Wanneer sy kon sing, dans en kaalvoet rondhardloop was sy op haar gelukkigste.”
Dit is die woorde van Alicia Herbst, wat haar dogter, Samantha Pretorius (18), op 4 Junie aan die dood moes afstaan. Samantha is met die siekte, Red Cell Aplacia gebore, wat beteken haar beenmurg het nie genoegsame rooibloedselle geproduseer nie. Sy moes elke maand sowat drie tot vier eenhede bloed kry sodat daar genoeg rooibloedselle is haar liggaam sou wees. Rooibloedselle en bloedplaatjies is onderskeidelik verantwoordelik vir die vervoer van suurstof in jou liggaam asook vir bloedstolling.
Weens die tekort aan rooibloedselle was dit ’n roetine in Samantha se lewe om dikwels vir bloedoortappings te gaan. Volgens Alicia was Samantha net die laaste twee dae baie siek. “Sy het opgebring en gekla van maagpyn,” sê sy. Vroeg die oggend van 4 Junie het die tannie by wie Samantha gebly het, haar gebel en gesê iets lyk nie reg nie.
“Toe ek daar kom het Samantha na my gekyk en toe haar laaste asem uitgeblaas,” sê sy. Daar word vermoed dat haar organe ingegee het. Samantha is op 10 Junie vanuit die Ou Apostoliese Kerk van Afrika in Peacehaven begrawe.



