Wedersydse respek nodig in dié verhouding
Die hoë vlak van misdaad en wetteloosheid in die land, toenemende dwelmhandel en moderne “tegnologiese swendelary” waarmee die Suid-Afrikaanse Polisiediens daagliks gekonfronteer word, maak dié beroep seker een van die moeilikstes wat daar vandag is.

Die hoë vlak van misdaad en wetteloosheid in die land, toenemende dwelmhandel en moderne “tegnologiese swendelary” waarmee die Suid-Afrikaanse Polisiediens daagliks gekonfronteer word, maak dié beroep seker een van die moeilikstes wat daar vandag is.
As in aanmerking geneem word dat misdadigers ons polisielede teiken en dat hulle dikwels in lewensbedreigende omstandighede moet werk, is dit duidelik dat ‘n werk in die Polisiediens beslis nie vir sissies geskik is nie. Die eise wat aan ons polisielede gestel word is geweldig en die meerderheid kwyt hul uitstekend van hul taak ondanks kritiek, gebrekkige hulpbronne en ander operasionele uitdagings.
Polisielede word fyn gekeur want volgens hul etiese kode moet hulle in staat wees om hul moeilike en gevaarlike werk altyd beheerst en verantwoordelik te doen. Dit is mense wat die regte temperament moet hê, nie maklik kwaad of bang mag word nie, altyd volwasse moet optree, nooit rassisties is nie en die publiek altyd met respek moet behandel, selfs in gevalle waar hulle ernstig geprovokeer word.
Dit is natuurlik die ideaal maar in die “regte lewe” is polisielede ook maar net mens en glip daar soms kandidate deur wat die sjarme van ‘n buffel met tandpyn het.
Dit is vermoedelik van dié met wie ‘n plaaslike akademikus te doen gekry het toe hy vroeër vanjaar te midde van groot vernedering en rassistiese aanmerkings in die polisieselle geprop is. Dié polisielede se optrede kan as niks anders nie as venynig en onverantwoordelik beskryf word.
Soos wat die druk op polisielede toeneem, kom onaanvaarbare optrede skynbaar toenemend voor. Volgens mev. Retha Nothnagel, voormalige hoofstaatsaanklaer van Vanderbijlpark, was 60% tot 70% van hofsake in die siviele hof die afgelope drie jaar teen polisielede as verweerders. In 80% van dié sake het die hof ten gunste van die eisers beslis. Dit beteken dat daar duidelik baie ongerymdhede en ongeregtighede deur die skuldige polisielede teen die publiek gepleeg is.
Mev. Nothnagel gee die versekering dat die spesiale polisie-afdeling wat sulke sake teen hul eie kollegas moet ondersoek, absoluut onkreukbaar en objektief is. Wetsgehoorsame lede van die publiek wat op ‘n onaanvaarbare manier deur ‘n polisielid hanteer is, kan dus verseker wees dat hul menseregte op die ou einde sal seëvier. Die ideaal is natuurlik dat die onaanvaarbare gedrag in die eerste plek nie moet plaasvind nie.
Die finale woord oor die verhouding tussen die publiek en polisie is nog lank nie gespreek nie, maar ‘n goeie begin sal wees as albei partye die nodige respek aan mekaar betoon soos wat dit van die begin af bedoel was om te wees. Dankie ook aan elke polisielid wat sy of haar werk met passie en waardigheid verrig en die publiek se bolwerk teen misdadigers is. Ons eer en waardeer julle.



