Twee mans ure lank gemartel tydens rooftog
Vier rowers oorval twee 60-plussers op hoewe
Soos berig in Vaalweekblad van 25 Oktober 2017
DE DEUR. – “Hulle is in jou persoonlike spasie en besef nie die skade wat hulle aanrig nie. Hulle besef ook nie dat hulle waardevolle items, wat jy nooit weer kan terugkry, steel nie. Ons vergewe, maar dit is nie so maklik om te vergeet nie.”
Dit is die woorde van mev. Annatjie Nel wie se oom en vriend Sondagaand, 22 Oktober op die Elandsfontein-kleinhoewes naby De Deur, deur vier mans aangeval en beroof is.
Mnre. Hans Nothnagel en Frik Grobler, albei in hul sestigs, was besig om televisie te kyk toe die honde vreeslik begin blaf.
Hulle het na buite gegaan om ondersoek in te stel, maar niks verdag opgemerk nie.
Hulle het terug in die huis gegaan om Fiësta op KykNet klaar te kyk. Die program was net klaar toe die honde weer begin blaf. Hulle het weer na buite gegaan, maar was dié keer nie so gelukkig nie. Drie mans het hulle oorrompel, terwyl ‘n vierde een by die draad gestaan het.
Die rowers het Nothnagel en Grobler na binne gedwing, waar hulle onderskeidelik in die slaapkamer en kombuis vasgebind is.
“Hulle het selfs die koord van die vrieskas afgeknip om my oom mee vas te bind,” sê mev. Nel. Die rowers het aangedring op kontant en vuurwapens, maar daar was nie een van die twee in die huis nie. “Hulle het my oom en sy vriend geskop en met enige ding moontlik geslaan. Hulle het selfs die honde ook geskop en geslaan.”
Bykans vier ure later, na die rowers byna alles in die huis omgekeer en uitgegooi het, het hulle hulself met die televisie, radio’s, selfone, waardevolle juweliersware, eetgerei en selfs kruideniersware uit die voete gemaak.
Nothnagel en Grobler kon daarin slaag om hulself los te wikkel en het na die bure gehardloop om hulp te ontbied.
“Die bure was ongelukkig nie daar nie, maar verder af in die pad was daar mense wat hulle gehelp het en ons toe ook geskakel het. Ek het dadelik die De Deur-polisie gebel en toe ons daar aankom, was die polisie, nooddienste en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum op die toneel,” sê mev. Nel.
Nothnagel en Grobler is na die Germiston-hospitaal geneem waar hulle behandeling ontvang het.
Die polisie se forensiese span het die toneel vir vingerafdrukke en leidrade gefynkam, maar geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.



