Militêre erfenis is doktor Dewald se kos
Sy voorliefde vir militêre geskiedenis het hom geïnspireer om sedert 2011 tot nou, verskeie navorsingsartikels oor slagvelde en toerisme te skryf
VANDERBIJLPARK. – ‘n Oudleerling van die Hoërskool Driehoek, Dewald Venter, het onlangs tydens die lentegradeplegtigheid, sy doktorsgraad in Toerismebestuur aan die NWU behaal.
Dewald het in 2000 aan Hoërskool Driehoek gematrikuleer, waarna hy Toerismebestuur aan die destydse Vaaldriehoekse Technikon studeer het. Hy het sy diploma (2003) en BTech (2004) in Toerisme cum laude geslaag, waarna hy in 20015 Toerismebestuur as vak by die herdoopte Vaal University of Technology (VUT) begin doseer het.
In 2008 begin hy met sy meestersgraad in Toerisme- en Gasvryheidsbestuur aan die VUT, asook ‘n Gevorderde Diploma in Hoër Onderwys (GDHO) aan die Universiteit van die Vrystaat.
Dewald het albei kwalifikasies in 2010 voltooi – die GDHO cum laude.
Na navorsingsartikels oor slagveldtoerisme in Suid-Afrika, het hy in 2013 by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus vir sy PhD in Toerismebestuur ingeskryf.
Onder leiding van dr. Stefan Kruger, ‘n spesialis in “kwaliteit van lewe navorsing” in Suid Afrika, het Dewald ‘n lewenskwaliteitraamwerk vir ‘n avontuurgebaseerde sport, wat spesifiek gefokus was op verfbal, ‘n snelgroeiende avontuurgevegsport ontwikkel.
Dewald se voorliefde vir militêre geskiedenis het hom geïnspireer om sedert 2011 tot nou, verskeie navorsingsartikels oor slagvelde en toerisme te skryf, wat uiteindelik gelei het tot die stigting van ‘n nuwe navorsingsveld, getiteld “militêre erfenistoerisme”.
Dewald is tans betrokke by navorsing in samewerking met die Suid-Afrikaanse Pantser Museum, Voortrekker Monument, 61 Gemeganiseerde Bataljongroep asook verskeie militêre geskiedenis-nabootsergroepe.
Hy beplan om in 2018 ‘n toer saam met verskeie voormalige Suid-Afrikaanse Weermaglede na Angolese slagvelde mee te maak. Dewald is ook gedurende die jaar deur verskeie militêre erfenisorganisasies genooi om as gasspreker op te tree.
In sy vrye tyd skryf Dewald artikels oor Suid-Afrikaanse militêre wapentuig vir “Tanks Encyclopedia”. As hy bene wil rek, sluit hy by sy vriende aan vir ‘n naweek se avontuurgevegsport.



