Victor-moordverhoor: ‘U het geskiet om dood te skiet,’ sê advokaat
Skieter se vuurwapen was glo gelaai met "Critical Defense Ammunition" wat ontwerp is om maksimum skade aan te rig
Berig gepubliseer in Vaalweekblad van 15 November 2017
Carla du Plessis
VEREENIGING. – Advokaat Karen van Rensburg, wat vir die staat in die Victor-moordverhoor optree, het verlede week haar kruisondervraging afgesluit en aan die beskuldigde, Stephanus Klopper, gesê sy lewe was nie een keer in gevaar nie, maar steeds het hy sy vuurwapen uitgehaal om dit te gebruik en die oorledene, Gavin Victor (20), geskiet om hom dood te skiet.
Klopper was die betrokke aand, 7 Mei 2016, saam met vriende by Manhattans in Drie Riviere-Oos. ‘n Woordewisseling het ontstaan tussen Etienne Schreiber (Gavin se vriend) en een van Klopper se vriende, Pieter. Etienne het toe eers vir Pieter met die kop op die neus geslaan en toe vir Klopper met die vuis bygedam. Meer as ‘n uur na die onderonsie binne die kroeg het die skietvoorval, waar Gavin drie keer in die bors geskiet is, buite plaasgevind.
Nadat die beeldmateriaal van die voorval in stadige aksie oor-en-oor gespeel is het adv. Van Rensburg aan Klopper gesê dat hy homself in die situasie geplaas het deur vir Etienne gewelddadig uit die voertuig te ruk.
“U wou vir Etienne daar hou en u wou hê Etienne moes boet omdat hy u vroeër die aand geslaan het. Volgens u het baie mense Etienne geken, so u kon baie maklik uitvind wie hy is. U kon selfs die voertuig waarin hy geklim het, se registrasienommer afskryf. U het besluit om aan hom te ruk en pluk.”
Sy het verder gesê Klopper het vir Etienne so hard geslaan dat hy byna in die rondte getol het.
“Lyk dit vir jou na iemand wat kalm en rustig is?” het sy aan Klopper gevra.
Bolander, die kroegman, het Klopper twee keer met die vuis geslaan, waarna hy met die tweede hou geval het. ‘n Split sekonde daarna val sy pa bo-oor hom. Klopper sê egter toe hy geval het, het Gavin hom begin slaan, maar adv. Van Rensburg het gesê dat mens nêrens op die beeldmateriaal kan sien waar Gavin hom slaan nie. Sy is van mening dat waar Gavin wel vorentoe beweeg, is waar hy val omdat hy toe reeds geskiet was. “Jy het binne een sekonde drie skote afgevuur. Indien u iemand wou afweer soos u sê het u net nodig om een keer te skiet. U het nie eers ‘n waarskuwingskoot afgevuur nie.”
Klopper se vuurwapen was gelaai met Critical Defense Ammunition wat ontwerp is om maksimum skade te verrig.
Klopper meen sy lewe was in gevaar en dit is waarom hy die sneller getrek het, terwyl adv. Van Rensburg nie saamstem nie. “Niemand se vuiste is gebal nie, niemand storm op jou af nie, die enigste aanval op jou was twee vuishoue van Bolander.”
Klopper het aan die hof gesê dat hy slegs vir Gavin van hom probeer wegkry het, hy wou hom nie doodskiet nie.
“Mnr. Klopper jy wil hê die hof moet glo dat die oorledene jou aanhou slaan het en daarom het u hom geskiet, maar nêrens op die beeldmateriaal kan mens sien hy slaan jou nie, en ook nie op die skermgrepe wat u van die beeldmateriaal gemaak het nie. U het nie besluit om te wag om te kyk of iemand u regtig wil doodslaan nie, u het sommer besluit u gaan doodskiet,” het adv. Van Rensburg gesê. Die saak is tot 1 Desember uitgestel.



