Hartlikheid aan rugby-gaste bou toeristebasis
Die Vaaldriehoek is vandeesweek gasheer vir meer as 3 000 besoekers wat elk op hul eie manier betrokke is by SA Rugby se Coca-Cola Akademieweek wat op VUT se Isak Steyl-stadion beslis word - hetsy hulle deelnemers, toeskouers, afrigters, onderwysers, ouers of keurders is.

Die Vaaldriehoek is vandeesweek gasheer vir meer as 3 000 besoekers wat elk op hul eie manier betrokke is by SA Rugby se Coca-Cola Akademieweek wat op VUT se Isak Steyl-stadion beslis word – hetsy hulle deelnemers, toeskouers, afrigters, onderwysers, ouers of keurders is.
Met 24 spanne is dié gesogte week die grootste van al die jeugrugbyweke wat deur SA Rugby en Coca-Cola aangebied word. Dit is die eerste keer sedert 1998 dat ‘n skolerugbyweek van dié omvang in die Vaaldriehoek aangebied word. Die Akademieweek is die teelaarde van toekomstige Springbokke en Superrugby-spelers. Stringe beroepspelers wat vandag huishoudelike name is, het hul rugbytande jare gelede by Akademieweek-toernooie gesny.
Die week is geografies verteenwoordigend van die hele land met elke provinsie wat een of meer spanne inskryf. Van Suid-Afrika se top skolerugbyspelers is hierdie week in ons eie midde in aksie.
Die week vorm ‘n integrale deel van SA Rugby se strategiese beplanning, want dit is hier waar die room van skolerugby raakgesien en afgeskep word met die oog op verdere ontwikkeling. Dit is voorwaar ‘n eer dat die Vaaldriehoek as vanjaar se gasheer vir so ‘n prestige-byeenkoms gekies is.
Voeg daarby die Nashua XV-tal (onder 13-rugbyweek) wat hierdie week op die DP de Villiersstadion in Sasolburg plaasvind, en ons kan seker wees dat tussen 3 000 en 5 000 besoekers van elders vandeesweek in die Vaaldriehoek is. Dit sorg sekerlik vir ‘n groot finansiële inspuiting vir ons plaaslike ekonomie en as ons gasvryheidsbedryf die geleentheid aangryp, kan dit ook baie vir hul eie toekomstige beplanning en toerismebemarking beteken – ‘n bedryf waarby die Vaaldriehoek baie kan baat.
Dit is dus in alle Vaaldriehoekers se belang dat ons hierdie week ons beste voetjie vir ons gaste voorsit – nie net in die hotelle, gastehuise, restaurante en ander openbare plekke waar hulle bedien gaan word nie, maar ook by die stadion of waar jy hulle ookal teëkom. Wys hulle die warm hartlikheid en gasvryheid van ons streek se mense, die hoë gehalte van ons diens en gee hulle waarde vir hul geld. Kanse is goed dat hulle dan weer en weer hierheen sal wil terugkom vir nog.



