CommunityLocal newsNewsNews

Slegte nuus! Twee vroue sterf in botsing teen trok

Nog ‘n pasiënt kritiek beseer

 

Twee vroue het vroeër vanmiddag (30 November 2017) gesterf en nog een is ernstig beseer toe ‘n trok  en ligte motorvoertuig by die DF Malan- en R59-kruising in die Vaaldriehoek gebots het. Dit is dieselfde kruising naby Sasolburg waar die sanger Zak van Niekerk ‘n paar jaar gelede ook in ‘n voertuigbotsing gesterf het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, rapporteer dat ER24 en ander nooddienste se paramedici met hul aankoms op die ongelukstoneel gevind het dat die trok omgeslaan het en oor twee bane op sy sy lê. Die motorwrak was aan die kant van die pad. Twee van die beseerde vroue was steeds in die motor en een het buite die voertuig gelê. Nadere ondersoek het getoon dat die twee vroue in die motor noodlottig beseer is en reeds gesterf het en dat niks ongelukkig verder vir hulle gedoen kon word nie. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die derde vrou, wat kritiek beseer is, het gevorderde lewensondersteunende behandeling van ER24 ontvang en is deur ‘n ander ambulansdiens, onder toesig van ER24 se paramedici, na ‘n hospitaal vervoer. Die trokdrywer is nie beseer nie. Die verkeersafdeling en polisie was op die toneel om die oorsaak van die ongeluk te probeer vasstel. Vaalweekblad se verslaggewers is tans nog op die toneel en sal moontlik later meer inligting kan verskaf.

  • Vaalweekblad se opregte simpatie aan die  oorledenes se families. Wense vir spoedige herstel aan die beseerde dame.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button