Polo jaag weg vir verkeersbeampte- ry man dood
VANDERBIJLPARK. Drie insittendes van 'n Volkswagen Polo het vanmiddag 10 Desember net na 17:00 vir 'n verkeersman weggejaag en by die robot van Frikkie Meyer, Beethoven en Chopinstraat na by Checkers, een van die padbedelaars doodgery.

VANDERBIJLPARK. Drie insittendes van ‘n Volkswagen Polo het vanmiddag, 10 Desember, net na 17:00, vir ‘n verkeersman weggejaag en by die verkeerslig by Frikkie Meyer-boulevard, Beethoven- en Chopinstraat naby Checkers, een van die padbedelaars doodgery.
Volgens inligting het die bestuurder van die Polo, met nog ‘n man en vrou in die voertuig, roekeloos en nalatig bestuur toe die verkeersbeampte hom agtervolg en die jaery begin het. Hulle is in Beethovenstraat af en by die verkeerslig het die bestuurder van die Polo probeer opdraai in Frikkie Meyer-boulevard en die randsteen getref, oor die eilandjie gery en die man raakgery waar hy gestaan en bedel het. Daarna het hy die eiland in die middel van die dubbelweg van Frikkie Meyer-boulevard getref en eers in die afrit van Frikkie Meyer aan die oorkant van die verkeerslig tot stilstand gekom. Dit is nadat hy die verkeerslig saam met hom gesleep het.
Die bestuurder is op die toneel in hegtenis geneem en in die vangwa gelaai. Paramedici van ER24 het vergeefs probeer om die man wat raakgery is te red, maar hy is op die toneel dood verklaar. Die ander twee geskokte insittendes van die Polo het op die toneel gestaan. Die vrou was baie geskok en het die heeltyd gehuil.
Polisie was tot laatmiddag op die toneel en ondersoek die saak.




