NewsNews

Van Olimpiese-standaard tot ‘vervalle’ visdam

VEREENIGING. – Eendag, lank, lank gelede was daar ‘n swembad in Vereeniging waar familie en vriende die hele dag in die son en water kon baljaar, maar...

Wat op ‘n tyd een van die lekkerste plekke in die stad was om te ontspan, is vandag net een groot verlate gat. In ‘n stadium was die publieke swembad in Duncanville vol water en skoon en netjies. Vandag is die dié swembad en die terrein vervalle.

Tog het hierdie vervalle swembad goeie herinneringe, al is dit reeds vir jare gesluit.

Linda Colyn sê sy het haarself pimpel en pers geval soos sy van die hoogste duikplank af gespring het. Dit was vir al wat ‘n kind was ‘n groot uitdaging om dit te doen. “Jy moes guts gehad het om van daar bo af te spring,” sê nog ‘n leser.

Baie inwoners het hier leer swem en later ook hier hul kinders leer swem. Daar was ‘n swemklub en swemkompetisies is gehou.

“Daar was life savers wat ‘n ogie oor die kinders gehou het. Sjoe, daardie tyd was jy nogal in as jy ‘n life saver geken het. Hulle was die in-ouens, die meisies was mal oor hulle,” vertel nog ‘n leser.

Corné Coetzee sê dit was ‘n lekker plek om as gesin die dag deur te bring.

Daar was ‘n tyd toe baie inwoners nie kon wag dat die swembad se hekke oopmaak nie. Sommer vroeg Saterdagoggende wat daar al baie kinders wat voor die swembad saamgedrom het. Ouers het geweet dat hul kinders die hele dag daar saam met hulle maats gaan deurbring.

Dit was die plek om te wees. Veral somervakansies.

Die vraag is egter of hierdie swembad ooit weer sal wees wat dit in sy gloriedae was. Vir jare staan die swembad leeg en dit is voor die hand liggend dat geen instandhouding of herstelwerk gedoen is sodat Jan Publiek weer die fasiliteit kan benut nie. Boonop is daar soveel ander probleme soos slaggate, waterlekke, elektrisiteitskwessies en slegte skuld dat die kans waarskynlik skraal is om die swembad weer vir die publiek oop te stel. Die droogte en waterbeperkings speel ook natuurlik ‘n groot rol om die fasiliteit aan die gang te hou. Menige is tog van mening dat indien die publieke swembad eendag weer oopmaak, hulle beslis in die ry sal staan om te swem, te baljaar en sommer net om ‘n lekker uitstappie saam met vriende of familie te geniet… soos in die ou dae.

* DA-raadslid Elize Aucamp het navrae aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur om uit te vind of die swembad eendag weer sy hekke sal oopmaak en of dit ook maar net ‘n wit olifant sal wees vir die jare wat voorlê.

Vaalweekblad het egter nog geen terugvoering ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button