Waterlekke: Metsi hou nie kop bo water nie
Raadslid Yvonne Coertze sal alle waterlekke wat nie binne 24 uur herstel is nie, voortaan na die nuwe burgemeester, munisipale bestuurder en die lid van die uitvoerende komitee vir water en sanitasie stuur
Me. Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 in Enfuleni, skryf:
Inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is onlangs gestraf vir ‘n daad wat hulle nie gepleeg het nie; waterdruk is verminder, want Emfuleni sukkel om Rand Water te betaal.
As ons kyk na die aantal waterlekke in ons dorp en veral in Wyk 9 wat daagliks deur Raadslid Yvonne Coertze gerapporteer word, dan is dit so duidelik soos daglig dat Metsi a Lekoa nie meer kop bo water hou nie en dat waterlekke en meters eenvoudig net nie herstel word nie.
Elke klein waterlek het ‘n reuse-finansiële impak op die stadsraad en dit wil blyk asof dit nie werklik ‘n probleem is vir Emfuleni nie want om inwoners te verontrief is nie meer ongewoon nie. Sou ‘n waterlek by ‘n watermeter spoedig herstel word, sal dit verhoed dat die eienaar na ‘n maand met ‘n massiewe foutiewe rekening sit en dan ‘n dispuut op die rekening verkla, wat beteken Emfuleni sal weer eens moet wag vir geld om in te kom. Dit sal ook die rekening by Rand Water aansienlik kleiner maak.
Raadslid Coertze sal alle waterlekke wat nie binne 24 uur herstel is nie, voortaan na die nuwe burgemeester, munisipale bestuurder en die lid van die uitvoerende komitee vir water en sanitasie stuur.



