VANDERBIJLPARK. – Na ‘n bakleiery wat tot die dood van ‘n bekende plaaslike karaoke-sanger gelei het, het ‘n skoolseun van Sasolburg reeds verskeie kere in die hof verskyn en is die saak Maandag, 12 Maart weer uitgestel.
Wimpie Koekemoer (30) is Saterdagaand 28 Oktober 2017 by die Okie Dokie restaurant in Mumfordstraat in die dorp vermoedelik deur Francois Byleveldt (18), aangerand. Byleveldt is familie van Koekemoer en tans ‘n graad 12-leerder. Koekemoer is twee dae later breindood verklaar en is om 23:10 die aand oorlede. Byleveldt het Koekemoer na bewering met die vuis geslaan, waarna hy grond toe geval het. Die 16 getuies vir die staat en die verdediging het op Maandag 12 Maart vir ure in die hof gestaan en wag dat die verhoor moet begin. Die 16 getuies sluit nie eens die mediese personeel en ander getuies in nie. Teen 11:40 is daar aangedui dat die saak uitgestel gaan word, aangesien ‘n verhoor wat reeds vir die dag geskeduleer is, prioriteit moet kry. Koekemoer se moeder reis vanaf Mpumalanga om elke keer die hofsake by te woon. “So ‘n uitstel ontwrig verskeie families en verlof by werkgewers raak ook ‘n probleem,” het een van die getuies genoem. Byleveldt is
steeds uit op borgtog van R2000 en die verhoor sal op 15 en 16 Mei voortgaan.



