
Hy is in ‘n beboste-gebied in die Jane Furs- omgewing in Limpopo gevind, ‘n ent weg van waar daar Sondag ‘n transitorooftog plaasgevind het.
Volgens die polisie was transitoveiligheidswagte Sondag op pad om kitsbanke in dié gebied te herstel toe hulle deur insittendes van ‘n silwer Toyota Corolla tot stilstand gedwing is.
Die verdagtes het hulle opdrag gegee om stil te hou en het dadelik op die wagte losgebrand. ‘n Oor-en-weer skietery het onstaan en een rower is doodgeskiet en twee ander ernstig gewond.
Kort voor lank het nog insittendes in ‘n Audi A4 opgedaag en die twee gewonde verdagtes in die voertuig gelaai en weggejaag.
Die polisie is na die toneel ontbied waar hulle die een verdagte wat doodgeskiet is, in die pad aangetref het. Hulle het ook ‘n AK47-geweer, 9mm-pistool, kontant en die Toyota Corolla op die toneel gevind. Die Corolla is vroeër die maand in die Tubatse-gebied buite Burgersfort gesteel.
Die Audi A4 is ‘n ent weg van die misdaadtoneel gevind. Die polisie het egter vasgestel dat die voertuig in die Garsfontein-gebied gesteel is en ook in Januarie betrokke was by die transitorooftog by Bloemfontein-lughawe.
Gemeenskapslede het laat Maandagmiddag die polisie ingelig van ‘n ernstig beseerde persoon wat in die bosse lê. Die man, vermoedelik een van die verdagtes, is in ‘n ernstige toestand in die rivier gevind. Hy kon egter nie praat nie omdat ‘n koeël steeds in sy mond vasgesit het.
Hy is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem.
Die voorval word ondersoek.



