LifestyleLocal newsNews

Einde van ‘n era toe bekende apteek na 63 jaar sluit

“Ons is baie hartseer om te moet groet. Dit voel of ek my familie verloor, maar ek bedank graag al ons kliënte vir hul ondersteuning deur die jare"

Eerste publikasie – 14 Maart 2018
Retha Fitchat

MEYERTON. – Na 63 jaar wat Japie van Rooyen Apteek die lief en leed van inwoners gedeel het, siekes help gesond maak het of ‘n pleister vir die siel aangebied het met ‘n simpatieke oor en salwende woord, het die deure nou gesluit.

Dié stap is hoofsaaklik te wyte aan finansiële redes, sê apteker Corné le Roux, wat dié familiesaak in Meyerton se hoofstraat sedert 1993 met die afsterwe van haar pa, mnr. Japie van Rooyen, bestuur het.

“Mediese fondse het die afgelope jare weens hul kontrakte met die groot koöperatiewe apteekgroepe, die mense al meer verplig om hul chroniese medisyne net by daardie apteke te kry. Indien die lede na ‘n nie-voorkeurverskaffer sou gaan, betaal die mediese fonds nie, of lede moet groot heffings inbetaal,” verduidelik Corné. Kleiner, onafhanklike apteke word sodoende toenemend doodgewurg.

Die apteek is in 1955 deur mnr. Japie van Rooyen in Lochstraat geopen. “Ek het letterlik in die apteek grootgeword,” sê Corné, wat van jongs-af in die aptekerswese belang gestel het en dit uiteindelik ook as loopbaan gekies het.

“Ons apteek was ‘n integrale deel van die gemeenskap. Ons was saam bly oor die geboorte van inwoners se kinders, ons het beleef hoe die kinders grootgeword het en getroud is, en het selfs die kleinkinders leer ken. Die dorp se mense was letterlik soos familie van ons en nie net kliënte nie,” sê Corné.

Die apteek was sedert 1955 bekend vir sy betrokkenheid by die gemeenskap, veral met atletiekborgskappe aan plaaslike skole. Wyle mnr. Van Rooyen het ook bekendheid verwerf vir sy gewilde Maer Japie-dieetmengsel.

“Ons apteek was deur die jare geseënd met besonder vriendelike personeellede wat ongelooflik lojaal was. Ons huidige personeel se diensjare het gewissel van 9 tot 15 jaar. Die kliënte was saam met ons in trane toe ons moes groet. Twee van ons personeellede het reeds werk by ander apteke gekry en die res, ek ingesluit, moet nou nuwe werk soek.

“Ons is baie hartseer om te moet groet. Dit voel of ek my familie verloor, maar ek bedank graag al ons kliënte vir hul ondersteuning deur die jare,” sê Corné.

Apteker Corné le Roux
Dié personeellede van Japie van Rooyen Apteek wat hul kliënte nou moes groet, is van links: Ronel de Jager, Maritza Laurier, Mandie Bothma, Anette Cross, Corné le Roux (apteker) en Samantha Ncamile.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button