Broer en suster geprys vir debuutwerke
Dit is nie aldag dat ‘n broer en suster albei in woordkuns uitblink en boonop op dieselfde geleentheid vir hul onderskeie debuutboeke geprys word nie
VANDERBIJLPARK. – Dit is nie aldag dat ‘n broer en suster albei in woordkuns uitblink en boonop op dieselfde geleentheid vir hul onderskeie debuutboeke geprys word nie.
Dié eer het onlangs vir Hennie en Trientjie Malan, albei gebore Vanderbijlparkers, te beurt geval. Trientjie is die oudste van drie kinders en Hennie die middelkind. Die Malan-gesin het in Vanderbijlpark gewoon voordat hulle in 1987 na ‘n plaas in die distrik verhuis het, waar elkeen moes hand bysit met die plaaswerk.
Hennie en Trientjie het albei aan die Laerskool Hendrik van der Bijl skoolgegaan voordat hulle in 1988 by die Laerskool Kalabasfontein, ‘n historiese klein plaasskooltjie, ingeskryf is. Albei het reeds as kinders in die skryfkuns belanggestel en daarvan gedroom om eendag vir verdere opleiding aan ‘n skryfskool te gaan studeer. Geld was egter skraps en na voltooiing van hul hoërskoolloopbane, onderskeidelik in 1993 en 1994, moes hulle voltyds op die plaas begin werk.
“Ons het in moeilike omstandighede op die plaas gebly waar ons pa die plaaslewe met ‘n ysterhand regeer het. Ons ma het ons deur die moeilike tye bygestaan en het op haar manier uitgevind dat Trientjie gedigte kan skryf – net soos ons ouma aan moederskant,” vertel Hennie.
Trientjie se eerste gedig, wat sy reeds in 1990 op hoërskool geskryf het, was ‘n Klein bietjie liefde.
Hennie het sy eerste manuskrip reeds in 2010 op ‘n Nokia N70 begin tik en dit is hoe sy boek, Bloedmaan, gebore is… op ‘n selfoon waarop sewe jaar se navorsing gedoen is.
In Julie 2016, steeds net so vuur-en-vlam vir die digkuns, het Trientjie ‘n internet-digkursus gedoen en kennis gemaak met Heleen Malherbe se groep “Free Spirits”. Haar mentor, Marita Schoeman, het haar baie raad gegee oor digtegnieke, waarna Trientjie afronding aan verskeie van haar ou gedigte kon doen, of haar nuutverworwe kennis kon benut om dit heeltemal te herskryf.
Die kursus het haar ook gehelp om opnuut te begin dig en uiting te gee aan jare se opgekropte emosies. So het sy geleer om haar seer en pyn wat sy jare in haar moes ronddra, in haar gedigte vas te vang.
Dit was die eerste treë op pad na haar digbundel Malankolie.
Malankolie is ‘n moet-lees bundel wat gevul is met eerlike en onverskrokke selfondersoek. Die leser stap saam met die digter deur herinneringe van elke oomblik van rou emosie – dit word die hooftema in die bundel wat die gedigte inmekaarweef… ‘n reis op soek na ‘n klein bietjie liefde… Dié bundel is bittersoet salf vir die siel.
Hennie se boek, Bloedmaan, is ‘n speurverhaal wat handel oor die vroulike hoofkarakter, Trudie, wat by ‘n prokureur uitvind dat die man wat haar grootgemaak het, nie haar regte is pa nie en dat sy ‘n wildplaas by haar biologiese pa geërf het nadat hy op ‘n geheimsinnige manier vermoor is. Op die wildplaas ontmoet sy haar onvriendelike halfsuster, Venessa, en die man van haar drome, waar hy as toerleier werk en waar stropery van die renosters se horings tydens volmaan plaasvind.
* Bloedmaan, geskryf deur Hennie Malan, en Malankolie, geskryf deur Trientjie Malan, is beskikbaar by Malherbe Uitgewers. Bestellins kan geplaas word by Heleen Malherbe.
Besoek Facebook: Malherbe Uitgewers, of die webwerf www.malherbe-uitgewers.co.za, of stuur ‘n e-pos na heleen@malherbe-uitgewers.co.za. Nadere besonderhede is beskikbaar by 066 089 9675.



