LifestyleLocal newsNews

Grondonteiening: Dis nou tyd vir praat

“Benut die geleentheid om saam te praat en rus julself toe met kennis oor Seksie 25 van die Grondwet”

 
Retha Fitchat

VEREENIGING. – “Grondonteiening sonder vergoeding” is tans gonswoorde wat baie Suid-Afrikaners na hul hartpille laat gryp. Dit het verlede week selfs ‘n Australiese politikus op die wêreld se koerantvoorblaaie laat verskyn met sy uitnodiging aan wit Suid-Afrikaanse boere om na die veiligheid van sy land te immigreer.

Is witmense se vrese dat hulle hul plase, hul huise en ander vaste eiendom sonder vergoeding aan ‘n massa armes sal moet afstaan, gegrond of is daar beskermende maatreëls in die Grondwet ingebou wat dit sal verhoed?

Dit was die onderwerp van bespreking by verlede Donderdag se maandvergadering van die Goue Driehoek Sakekamer, waar ‘n kenner op die gebied, prof. Elmien du Plessis, medeprofessor in die Regsfakulteit van die NWU, sakelui en boere oor die moontlikheid van grondonteiening toegespreek het.

“Ons moet toegee dat die groot ongelykhede in Suid-Afrika dringend aandag moet kry. Die ANC het ‘n inklusiewe proses geopen om almal se insette oor die grondkwessie te kry.

“Benut die geleentheid om saam te praat en rus julself toe met kennis oor Seksie 25 van die Grondwet,” is haar raad aan sakelui en boere.

Prof. Du Plessis sê Suid-Afrikaners vergeet soms dat ons land se geskiedenis wemel van fisiese gewelddadige interaksies oor grond. Dink maar aan gebeure soos die Grensoorloë, die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog. Selfs Apartheid.

Sy sê die trauma wat deur die eeue deur sulke konflikte veroorsaak is, is nog nooit ten volle verwerk nie.

“Ons moet weet watter ongeregtighede ons probeer aanspreek in terme van die Grondwet, en wat die herstellende geregtigheidsmodel is wat in grondhervorming gebruik word.

“Ons vermy tot dusver hierdie gesprekke omdat dit ons ongemaklik laat voel. Die ‘harde reg’ maak ook nie voorsiening hiervoor nie. In die reg en politiek is dit baie makliker om gesprek te voer oor vergoeding vir onteiening as om mekaar met die onderliggende probleme te konfronteer,” sê sy.

“Onthou dat die behoeftes van almal in Suid-Afrika in ag geneem moet word. Dit is nie nou die tyd om enklaves te bou en van agter ‘n fort te baklei nie. Nou is die tyd om met die nodige kennis en voorstelle vir werkbare oplossing na die gesprekstafel te gaan,” is prof. Du Plessis se siening.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button