Dié spoedboetes se lesings is onder verdenking, sê motoriste
Lesers kla dat hulle uit die bloute 'n hele klomp spoedboetes kry, terwyl hulle oortuig is dat hulle nie die spoedperk oorskry het nie.

Eerste publikasie: Vaalweekblad 21 Maart 2018
Retha Fitchat
VEREENIGING. – Is hier ‘n slang in die gras langs Emfuleni se paaie wat wag om ‘n groot gat uit niksvermoedende motoriste se beursies te hap?
Dit is die vraag wat meer as twaalf beswaarde motoriste die afgelope twee weke aan Vaalweekblad gevra het weens ‘n onverwagse toename in spoedboetes.
Nog sowat 30 motoriste het hul misnoeë met die plaaslike verkeersdepartement op Facebook uitgespreek nadat sommige van hulle tot soveel as ses boetes wat reeds uit Maart verlede jaar dateer, in een koevert met gewone straatpos ontvang het.
Die spoedoortredings is glo hoofsaaklik begaan in Barrageweg tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, sowel as in Houtkopweg, Vereeniging. Baie van die motoriste sê hulle was tot dusver glad nie bewus van die beweerde oortredings nie omdat hulle nie tydens die oortreding voorgekeer en daaroor ingelig is nie. Hulle bevraagteken nou die aangetekende spoed omdat hulle hul voertuie se spoedbeheer op dié roetes gebruik en oortuig is dat hulle nie te vinnig gery het nie.
Wat ook vir hulle verdag voorkom, is dat baie van die boetes wat na bewering in Houtkopweg uitgereik is, deur die bank ‘n oortredingspoed van 71 kmpu in ‘n 60 kmpu-sone aandui.
“As ‘n mens die boetes betwis omdat jou spoedbeheer veel laer gestel was as die beweerde aangetekende spoed, sê die verkeersafdeling net jou ‘speedo-cruze was seker uit’. Jy moet maar net opdok,” sê Martie Calitz van Vanderbijlpark, wat verskeie boetes in een koevert ontvang het.
Volgens mnr. Pieter van den Berg het hy ook kort na mekaar drie boetes gekry vir spoedoortredings van onderskeidelik 71, 71 en 72 kmpu terwyl sy voertuig se spoedbeheer deurgaans op 65 km gestel was. “Iets is nie reg daar nie. Dieselfde gebeur op die pad voor Mercedes verby. Ek het daar ook vier boetes gekry wat tussen 72 en 73 kmpu wissel. Hoe gebeur dit? Daardie kameras is verdag,” sê hy.
Gloutjie Barnard sê sy het die kamera betyds gesien en net oor 60 kmpu gery, maar ‘n ruk later ook ‘n boete vir 71 kmpu gekry.
Me. Linda van der Westhuizen sê sy het onlangs twee boetes van R400 in Van Riebeeckweg, Vereeniging, gekry. “Ek kan die grys boks op ‘n afstand raaksien en ry hierdie pad elke dag. Ek het nou volgens die boete twee Saterdae na mekaar presies 73 kmpu gery. Hoe toevallig? Ek bestuur al 37 jaar en het minder as 10 boetes oor hierdie hele tydperk gekry. Nou sommer twee in ‘n week. Ek kan dit wraggies nie bekostig nie,” sê sy.
Me. Zelda Blignaut is nog een van die ongelukkiges wat ‘n boete van R1 000 gekry het. “Ek sal dit nie betaal nie,” sê sy.
Me. Chantel Prinsloo sê sy het verlede week sommer ses boetes in die pos gekry – vier vir R400 en twee vir R1 000. “Ek ry al hoe lank daardie pad en áltyd 60! Een helse slang is hier in die gras,” sê sy.
Quintin Strauss sit in dieselfde bootjie. Die bedrag van die boetes wat hy reeds in Houtkopweg ontvang het, het al opgeloop tot by die R20 000, maar hy sê hy gaan dit beslis nie betaal nie.
“Ek het gehoor daai nuwe grys goed (spoedbeheerkameras) wat die hele Vaaldriehoek vol staan, is onwettig. Hulle moet beman wees,” sê hy.
* Vaalweekblad het Emfuleni se verkeersafdeling sowel as die provinsiale verkeersowerheid gevra om uitsluitsel te gee oor die reëls wat by die gebruik van spoedkameras geld. Hul verduidelikings sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.



