Hersien Midvaal se waardasierol, eis VF+
Inwoners is baie ontsteld oor die reusesprong in die waardasies van hul eiendomme

MEYERTON. – Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het vroeër die maand ʼn dringende beroep op die Midvaal-stadsraad gedoen om grondwaardasies te hersien aangesien sekere onderontwikkelde gebiede volgens die VF+ oorgeëvalueer is. Die waardasierol het onlangs tydens ʼn geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering (GOP) by Laerskool Voorwaarts in ʼn vurige debat ontaard en raadslede moes behoorlik bontstaan om vrae te beantwoord.
Mnr. Kobus Hoffman, die VF Plus-onderleier in Gauteng, sê die gemeenskap is uiters ontsteld oor die reusesprong in die waardasies van hul eiendomme omdat dienslewering agterweë gelaat word.
“Dit blyk ook dat die nuwe Midvaal-klagtesentrum as ʼn buffer tussen die gemeenskap en die raadslede dien, eerder as om probleme en klagtes te hanteer,” sê Hoffman.



