Vaalweekblad het verlede week berig dat sy van die ventilator afgehaal is, maar dit was ongelukkig van korte duur. Die goeie nuus is egter dat die ventilator Maandag weer afgehaal is en dat Shanei meer begin reageer. “Sy maak haar oë vir kort rukkies oop en glimlag vir ons. Sy probeer ook om te praat, maar ek kon nie hoor wat sy sê nie. In dié stadium is sy kalm en rustig en die beste wat sy nog gelyk het sedert die ongeluk,” sê Annelie Smith. Shanei en haar 16 maande oue dogtertjie, Reanei, was op 23 Maart in ‘n ernstige ongeluk op die R54. Reanei is op slag dood, terwyl Shanei in ‘n kritieke toestand hospitaal toe geneem is. Haar pankreas en milt het weens die impak geskeur en is later in die teater verwyder. Haar lewer het ook geskeur, maar dokters is oortuig dit sal herstel. Verder is haar linker tibia en fibia vergruis en sy het ‘n diep sny in haar linker bobeen. Sy kry tans fisioterapie-behandeling. Sy is steeds in die intensiewe sorgeenheid van die Sebokeng-hospitaal. Familie en vriende het ook ‘n hulpfonds gestig om haar oor te plaas na ‘n privaathospitaal. Enige persoon wat ‘n bydrae wil maak, kan die volgende bankbesonderhede gebruik: Meise Nkaiseng Trust Account, ABSA Bank, rekening- nommer: 4054975893, takkode: 630137, verwysing: 056718/naam en van.



