Photo GalleriesSportSportSport

Valie wil Skotse-setperke aan die brand speel

VANDERBIJLPARK. – Die meeste 11-jariges het waarskynlik nog nie eers Kaap toe gevlieg nie, maar as jou naam Wihandré Kruger is, val jy nie in daardie kategorie nie. Dié boorling van Vanderbijlpark se paspoort spog al met ‘n paar buitelandse stempels daarin. Die rede vir sy wêreldreise is sy vernuf op die gholfbaan. Op vierjarige …

VANDERBIJLPARK. – Die meeste 11-jariges het waarskynlik nog nie eers Kaap toe gevlieg nie, maar as jou naam Wihandré Kruger is, val jy nie in daardie kategorie nie.

Dié boorling van Vanderbijlpark se paspoort spog al met ‘n paar buitelandse stempels daarin. Die rede vir sy wêreldreise is sy vernuf op die gholfbaan. Op vierjarige ouderdom het hy sy eerste gholfstok gekry en sy gholftalent het geblom.

Op 9-jarige ouderdom het hy aan sy eerste toernooi deelgeneem en met die intrapslag die kollig op hom gevestig. Hy het die Welkom o.11-toernooi en ook die Vrystaat/Noord-Kaap Ope gewen en onderskeidelik tweede en derde by die Kroonstad Ope en Kersie Ope geëindig.

Die talentvolle leerling van die Laerskool Emfulenipark spog met ‘n voorgee van elf en gaan eersdaags in Skotland die Suid-Afrikaanse o.11-gholfspan by die Europese Junior Wêreldtoernooi verteenwoordig. Hy het verlede jaar 12de in Skotland geëindig en twee arende aangeteken.

“Ek wil graag daarop verbeter,” sê die beskeie Valie. Volgens sy afrigter, Lloyd Herbst, spog Wihandré met ‘n puik dryfhou, maar dat sy vernuf op die setperk iets is om te aanskou.

By die 2016 Afrika Junior Ope in San Lameer het hy sesde geëindig, maar steeds genoeg punte bymekaar gemaak om die Vrystaatspan te haal. Einde 2016 het Wihandré die kwalifiserende toernooi vir die Maleisiese, Europese en Australiese Wêreld Ope in Bronkhorstspruit gewen. Hy het die SA Kids Gholfspan gehaal wat aan dié kampioenskappe deelgeneem het.

In Desember 2016 in Maleisië het hy aan sy eerste internasionale toernooi deelgeneem. In 2017 het hy in die kwalifiserende toernooi vir die Amerikaanse Junior Wêreldkampioenskap tweede geëindig. Slegs die top twee spelers in elke ouderdomsgroep het Suid-Afrika by dié gesogte kampioenskap in Pinehurst, North Carolina verteenwoordig.

“Dit was vir hom ‘n belewenis. Die wêreld se top 172 gholfspelers was daar in aksie. Hy het daar sy persoonlike beste syfers, een minder as baansyfer, aangeteken. Hy het onderskeidelik 71, 83 en 74 oor die drie dae aangeteken en op 12 houe meer as baansyfer geëindig,” sê sy ma Jenny.

“Daar was spelers met ‘n voorgee van vyf minder as baansyfer. Daardie kinders gaan nie skool nie, hulle speel net gholf. Ek oefen so twee tot drie ure per dag,” gee hy te kenne.

Hy het op Pinehurst prioriteitstatus verwerf wat hom deelname aan verskeie internasionale toernooie verseker het. In 2017 het hy weer aan die Afrika Junior Ope deelgeneem en derde geëindig. Hy was ook lid van die seëvierende Dunbar-Bekerspan wat die toernooi gewen het.

Related Articles

 
Back to top button