News

VIDEO: Slagoffers jaag in kapers se motor vas

Twee vermeende kapers is in hegtenis geneem na hulle nie daarin kon slaag om hul slagoffers se voertuig te kaap nie.

Die voorval het Donderdag om 20:10 in Van Dykpark in Boksburg plaasgevind. Beeldmateriaal van die voorval is deur Intelligence Bureau SA op Facebook gedeel en is al meer as 330 000 keer gelyk.

Volgens kapt. Mavela Mosondo was die paartjie in hul voertuig by die oprit van hul woning en gereed om te ry toe drie mans by die oprit ingehardloop het. Die mans het die paartjie uit die voertuig gedwing, maar hulle kon egter nie daarin slaag om die voertuig in trurat te sit nie.

Die beeldmateriaal wys hoe een van die mans na die wegkomvoertuig hardloop en die ander twee rustig terugstap. Kort daarna ry die paartjie teen volspoed met die agterkant van hul voertuig teen die vermeende kapers se wegkommotor vas. Daarna maak hulle ‘n U-draai en ry weer, die keer met die voorkant van hul voertuig, teen die wegkommotor vas.

Twee van die drie mans is deur lede van die gemeenskap vasgetrek en aan die polisie oorhandig. Die derde verdagte is steeds op vrye voet.

Daar is ook beslag gelê op ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle staan tereg op aanklag van poging tot kaping en die onwettige besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Kyk beeldmateriaal hier:

https://www.facebook.com/IntelligenceBureauSA/videos/2028111567202354/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button