NewsNews

O gat(s)

VEREENIGING. - ‘n Inwoner van die stad se bakkie het groot skade opgedoen toe dit verlede week in ‘n gat langs die pad beland het. Daar was geen aanduiding of waarskuwingstekens dat daar ‘n diep gat langs die pad is nie.

Marius Vermaak het op 25 April omstreeks 17:10 in Houtkopweg, tussen Unitaspark en Sonlandpark met sy Nissan Hard Body gery, toe hy van die pad af wou trek. Min het hy geweet hy gaan eers drie ure later, en boonop sonder sy bakkie, huis toe kon gaan.“Ek het my noodligte aangesit om die verkeer te waarsku dat ek gaan aftrek. Ek was skaars oor die geel streep, toe ek met my voorwiel in die gat beland het. Ek het uitgeklim om ondersoek in te stel en gesien die voorkant van die bakkie is in die gat,” sê Marius.Hy het dadelik die owerhede geskakel om hulp te verleen met die verkeer sodat die insleepdiens sy bakkie uit die gat kan trek, maar sy noodkreet om hulp het op dowe ore geval.“Ek het ‘n paar keer die verkeersdepartement en polisie gebel, maar niemand het na die toneel gekom nie. Voertuie het die een na die ander verby my gery sonder dat enige persoon gestop het om te help,” sê hy.‘n Polisievrou met ‘n polisievoertuig van Meyerton, wat reeds van diens af was en op pad was huis toe, het verby hulle gery en gestop om hulp te verleen. “Die insleepdiens kon toe my bakkie uit die gat trek en na my huis toe bring. Drie ure na die voorval was ek eers by die huis.”Die gat, wat sowat ‘n meter van die geel streep af is, is ongeveer 1.5 meter diep en daar is riool in die gat. “Die rioolgat is tussen die lang gras versteek en daar is geen waarskuwingstekens dat daar ‘n oop gat is nie,” sê hy. “Dit is egter glad nie vreemd nie. Raadslede rapporteer aanhoudend water- en riooldeksels wat gesteel word, maar dit word eenvoudig nie vervang nie,” sê DA-raadslid Elize Aucamp. Marius weet egter nog nie wat die omvang van die skade is nie, maar hy reken dit sal sowat R15 000 beloop. Hy rig ‘n waarskuwing aan padverbruikers om op die uitkyk te wees vir die rioolgat en so ook ander gate wat in die lang gras versteek kan wees.

Marius Vermaak se bakkie in die rioolgat wat tussen die lag gras, sonder enige waarskuwingstekens, versteek is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button