Valia-rugby op die kruin van die golf
VANDERBIJLPARK. – As daar enige twyfel bestaan het oor wie die grootmoondheid van skolerugby in die Vaaldriehoek is, dan het die Hoërskool Transvalia dit die naweek in vet drukletter uitgespel. Transvalia beleef tans ‘n bloeitydperk en sy eerste rugbyspan word op verskillende skoleranglyste onder die top tien in die land getel. Valia beklee die vyfde …
VANDERBIJLPARK. – As daar enige twyfel bestaan het oor wie die grootmoondheid van skolerugby in die Vaaldriehoek is, dan het die Hoërskool Transvalia dit die naweek in vet drukletter uitgespel.
Transvalia beleef tans ‘n bloeitydperk en sy eerste rugbyspan word op verskillende skoleranglyste onder die top tien in die land getel. Valia beklee die vyfde sport op www.saschoolpsort.co.za se rangleer en dit getuig van twee dinge.
Goeie afrigting en puik werwing. Met Jaco Kok as die skool se direkteur van rugby en hoof-afrigter van die eerste rugbyspan, het Transvalia in ‘n rugbyreus ontwikkel. Sy regterhand, Gunner Williamson, verdien ook ‘n reuse klop op die skouer vir sy harde werk met die voorspelers. Valia se skrumwerk is een van sy groot sterkpunte vanjaar.
Die skool se werwer en bemarker, Poena van Dyk, verdien ook ‘n pluimpie vir sy skerp oog as talentsoeker. As mens in ag neem dat Transvalia nie oor koshuise beskik nie is dit ‘n ongelooflike prestasie om as die vyfde beste beste span tans in die land bestempel te word. Dit is die eerste keer in die Vaaldriehoek se geskiedenis dat ‘n skool dit vermag.
Die Hoërskool Dr. EG Jansen was die naweek aan die ontvangkant toe Transvalia hom met 82-14 streepsuiker gegee het om die Tuks-reeks onoorwonne af te sluit. Die span het derde in die reeks geëindig. Valia se o.14’s is as die naaswenner van die reeks gekroon nadat hy met 24-7 teen Menlopark in die eindstryd verloor het.
As skool het Transvalia algeheel derde in die rugbykompetisie geëindig.

























