VEREENIGING. - “Hy was altyd vol lewe. As hy in ‘n plek instap dan het almal altyd lekker gelag. Hy was ‘n groot familie mens en sy kinders was sy alles. Nou is sy kinders, waarvan sy jongste maar 10 maande oud is, sonder hul pappa.”
Wyle Jurie Grobler saam met sy babadogtertjie Mieke, wat nou 10 maande oud is.
Dit is die woorde van Johannes de Kock, Jurie Grobler (32) se swaer wat steeds in skok is oor sy skielike dood. Jurie het noodlottige beserings tydens ‘n ongeluk op die R82 opgedoen toe ‘n bakkie na bewering voor hom ingedraai het. Jurie was omstreeks 21:00 met sy motorfiets op pad huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het.
Die motorfiets waarmee Jurie gery het was die van sy beste vriend wat 10 jaar gelede in ‘n ongeluk dood is. Foto: Chris Smuts
Jurie was pas terug in Suid-Afrika nadat hy drie maande in Zambië gewerk het. Hy het die naweek sy motorfiets reggemaak en Sondag die eerste keer daarmee gery, min wetend dat dit ook die laaste keer sou wees. Jurie het die oggend besluit om eerder met sy motorfiets te ry sodat sy vrou Debbie met hul motor kon ry indien dit nodig sou wees. Hy het met teëlwerk by die kerk gehelp.
Die bakkie waarmee Jurie gebots het. Die bestuurder van die bakkie en twee kinders is ongedeerd. Foto: Chris Smuts
“Die motorfiets was vir Jurie baie spesiaal. Sowat 10 jaar gelede is sy beste vriend Sakkie, in ‘n motorongeluk op die R59 dood. Dit was Sakkie se motorfiets wat hy stadig maar seker reggemaak het en toe dit uiteindelik klaar was en hy daarmee kon ry, toe gebeur die ongeluk.”
Jurie laat sy pa, ma, twee broers, twee susters, sy vrou, Debbie en vier kinders, Johandré (10), Leané (7), Michael (3) en Mieke (10 maande) en skoonfamilie agter.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!