VEREENIGING. – Om in vrees vir plaasaanvalle en jou lewe te leef, is maar een van die groot bekommernisse waarmee plaaslike boere te doen het, maar min mense verstaan regtig die groot uitdagings waarmee dié boere en hoewe-eienaars daagliks te doen het.
Om meer as R1 miljoen se beeste in vier maande te verloor, is vir enige boer ‘n groot terugslag wat min boere weer sal kan oorkom. Sowat 160 stuks vee is op ‘n plaas net buite Vereeniging gesteel. Die diewe is op heterdaad betrap, maar die saak sloer nou reeds twee jaar en die skuldiges, wat in besit van die gesteelde vee betrap is, het steeds nie vir hul dade geboet nie. Die indruk word geskep dat meer as net die diewe by die sindikate betrokke is. Sommige van die vee is per voet aangejaag sover as van Vereeniging na Deneysville. Die mees onlangse voorvalle het sowat twee weke gelede in dieselfde distrik plaasgevind.
Die omvang van die veediefstalle en slagtings is so groot dat daar nou van die publiek gevra word om al die voorvalle aan te meld, sodat ‘n geheelbeeld van die probleem verkry kan word. Net in die streek vanaf Vereeniging, Devon tot Magaliesburg is verlede maand 553 stuks vee en 2 017 stuks pluimvee ter waarde van meer as R3 miljoen gesteel. In die streek is nege ondersoekbeamptes en drie voertuie en hulle bedien 75 stasiewyke.
Die lewende hawe word op twee maniere gesteel. Vee word aangejaag na ‘n sekere punt en dan per voertuig gelaai. Die modus operandi wat die diewe gebruik is om die vee in ‘n hoek te dryf, die hakskene te kap en/of die bene vas te bind en dan net daar te slag. Die vleis word dan in die vroeë oggendure op ‘n trok gelaai en dan versprei. Die slagtingsproses volgens een van die boere word baie professioneel in die nag gedoen. Die huidige tendens is dat daar tussen drie en vyf beeste byvoorbeeld in een nag gesteel en/of geslag word en dan met klein vragmotors vervoer word. Die meeste voorvalle vind tussen Sondagaande en Donderdae plaas. Dit maak dit vir die boere onmoontlik om daagliks veetellings te doen om hul verliese te identifiseer.
Dit is nie net individue wat vee steel vir eie gebruik nie, maar wel groot sindikate wat in ‘n baie wye gebied opereer. Gevalle waar veediefstalle met sindikate in die Vaaldriehoek verbind word sover as Heilbron, Frankfort en Vrede in die Vrystaat, maak hierdie ‘n baie kommerwekkende probleem. Nie net word lewende hawe van plase af gesteel nie, maar word vragmotors, implemente, kraggereedskap, kragopwekkers, trokbande en graan gesteel. Plaaslike boere wat dit kan bekostig, word nou genoodsaak om veldwagters, radiotoerusting en opsporingstoestelle ten duurste aan te skaf om die probleme te oorbrug.
Een opsporingstoestel kan tot R12 000 kos. Boere ry self patrollies in die nag en stel sodoende hule eie lewens in gevaar om hul vee en eiendom te beskerm. Die polisie se Veediefstal-eenheid in Vereeniging bestaan uit vier ondersoekbeamptes wat veediefstalle vanaf Devon tot Vereeniging moet ondersoek. Dit maak hul taak feitlik onmoontlik weens die feit dat volgens inligting van die boere, hierdie polisiebeamptes met net een voertuig in die gebied moet werk. Hulle het dus nie die kapasiteit om die groot probleem die hoof te bied nie.
Volgens boere met wie Vaalweekblad gepraat het, is mannekrag die grootste probleem. Meer polisiebeamptes, boere en gemeenskappe moet saamstaan om die probleem te bekamp. Vaalweekbladlesers en mense wat sosiale media volg lees daagliks van plaas- en hoewe eienaars wat lewende hawe deur diefstalle verloor. Plaasboere en hoewe-eienaars word gevra om sulke diefstalle buiten by die polisie, ook by Vaalweekblad aan te meld d.m.v ‘n e-pos aan jannie.duplessis@media24.com, om meer statistiek oor die omvang hiervan te verkry.



