VANDERBIJLPARK. – Skaars ‘n week na mej. Roxy McIntyre (26) se noue ontkoming toe sy in Ascotlaan deur ‘n voertuig van haar bromponie afgestamp en haar pols gebreek is, was sy Maandag weer op haar pos as bestuurder van die Vodacom-tak by President Hyper Vaal.

Roxy sê sy neem gewoonlik die onbeligte Ascotlaan-roete werk toe en terug na haar ouerhuis in SW1 omdat sy nog altyd gedink het dat dit veiliger is as die besige Barragepad. Sy is egter verlede Maandagaand naby Mario Milani-rylaan se afdraai op die “stil” pad deur ‘n bakkie van haar bromponie afgestamp, waarna die voertuig bo-oor dit gery het.
“Dit is in honderde stukkies,” sê sy hartseer. Gelukkig is Roxy met die impak ‘n ent van haar bromponie af weggeslinger en het die voertuig nie oor haar ook gery nie.
Sy is ná die botsing in Mediclinic Emfuleni opgeneem waar sy behandeling vir haar gebreekte pols en verskeie skaaf- en kneuswonde ontvang het.
Haar bromponie is ‘n totale wrak en sy is nou van ander mense afhanklik om haar werk toe en terug te neem. Sy kan buitendien nog nie self bestuur nie omdat haar gebreekte linkerpols steeds in gips is.
Hoewel sy nog heelwat pyn het, was sy slegs tot Sondag afgeboek en is van Maandag af weer terug by die werk.
Sy besoek vandag weer ‘n spesialis omdat sy vermoedelik ‘n opvolgoperasie aan die gebreekte gewrig sal moet kry.
* Vaalweekblad het verlede week per abuis die verkeerde voertuig se foto by ‘n berig oor die ongeluk geplaas en bied verskoning aan vir die vergissing.



