EntertainmentLifestyleLocal newsNewsSchools

Vreeslose wiskunde-wedlopers vrees geen koue of kopbrekers

Die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg se jaarlikse Wiskunde-deurnag was vanjaar weer ‘n groot sukses

SASOLBURG. – Die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg se jaarlikse Wiskunde-deurnag was vanjaar weer ‘n groot sukses met dosyne jong Einsteins wat hul slag op dié vakgebied gewys het. En hulle het vir geen breinbrekers geskrik nie,  ondanks die winterkoue wat reeds sy kloue in die Vaaldriehoek ingeslaan het!
Die leerlinge het reeds met die keuse van hul spanname bewys hoe kreatief hulle kan wees.
Spanname het onder andere die Mathletes, Divide and Conquer, Tot die mag Matrix en vele meer ingesluit.
Die Wonderlike Wiskunde Wedloop het gesorg vir hope pret, opstote en soektogte in die donker. Daar moes ook baie vinnig gedink word om betyds die volgende leidraad te ontvang.
Uiteindelik was dit die matrieks se “Tot die mag Matrix”-span wat die kompetisie gewen het.
Daar was ook individuele kompetisies per graad, asook spankompetisies gedurende die nag. Die hoogtepunt is altyd die kompetisie om die beste dans- en sangitem te kies en hierdie jaar was geen uitsondering nie.
“Dit is ongelooflik hoe kreatief die leerlinge om 03:00 in die oggend kan wees! Al die woorde moet natuurlik oor wiskunde gaan. Om ‘n wenner te kies was glad nie maklik nie,” sê Je’Meane Viljoen, die skool se mediabeampte.
Om 05:30 die oggend het die deelnemers hul gebruiklike stappie om die rugbyveld uitgevoer, maar dit was steeds te vroeg om die son te sien opkom.
Doodmoeg en voos gedink (en gedans, gespring en veral geëet) is almal huis toe om uit te rus vir volgende jaar se uitdaging.

 

Twee jong wiskundiges in diepe konsentrasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button