LifestyleLocal newsNewsSchools

Tegnies is terug by HTS Sasolburg

Die Hoër Tegniese Skool Sasolburg (HTS Sasolburg) is besig om sy vere reg te skud vir sy jaarlikse opedag wat vanaand, Dinsdag 29 Mei, gehou word. Woon dit gerus by! Jy kan 'n tablet wen!

 
SASOLBURG. – Tegnies is terug! Die Hoër Tegniese Skool Sasolburg (HTS Sasolburg) is besig om sy vere reg te skud vir sy jaarlikse opedag wat vanjaar op Dinsdag 29 Mei, gehou word.

Die skool het voorwaar baie om oor opgewonde te wees. Na die verandering van die kurrikulum en die uitfasering van nie-tegniese vakke, het hierdie tegniese skool voorwaar baie om te bied.

Dit is geen geheim dat Suid-Afrika tans ʼn groot tekort aan ambagsmanne, ingenieurs en ander tegnici ervaar nie. Na afloop van samesprekings tussen die Departement van Basiese Onderwys en NAST (National Association for Schools of Technology), is die kurrikulum van tegniese skole in die afgelope paar jaar verander. Daar is nou nege spesialisvakke waaruit leerlinge kan kies.

Al hierdie vakke is voorheen slegs oorsigtig in onderskeie tegnologie vakke bespreek.

Digitale stelsels: ʼn Leerling wat digitale sisteme neem, sal te doen kry met rekenaars, Booleense algebra, mikroverwerkers, stelselbeheer, prosessors en programmering.

Swaarstroom: Swaarstroom elektriese stelsels verwys na toepassing van elektrisiteit waar swaarstroom vanaf ʼn hoofkragtoevoer gebruik word in ʼn aantal toepassings.

Elektronika: Dié vak stel die leerling hoofsaaklik bekend aan die aanwending van analoë elektronika wat van ligte stroom gebruik maak. Hierdie drie vakke was voorheen deel van Elektriese Tegnologie.

Konstruksie: Dié vak behandel die oprigting van beton- en baksteenstrukture en handel oor fondasies, beton, bekisting en versterkings, stellasies, betontrappe, dakbedekking en aspekte wat daarmee te make het. Houtwerk: In houtwerk kry die leerder onder meer met las- en paswerk, muurpaneelwerk, bekisting, swewende houtvloere, plafonne, trappe, deure, dakke en kaste te doen.

Siviele dienste: Dit het te make met die “nat” aspek van struktuuroprigting, pypkonstruksie, riolering, warm- en kouewatertoevoer, dreinering en verwante aspekte wat daarmee te doen het. Hierdie drie vakke was voorheen deel van Siviele Tegnologie.

Automotive: Dié vakgebied verwys na motorwerktuigkunde en bestudeer die meganika agter petrol- en dieselvoertuie, motorfietse, grassnyers en trekkers. Pas en draai: Dit sluit in die draai, maal, sny en vorm, pas van sleutels, skagte en meer, sowel as die driedimensionele bewerking van staal.

Sweis en metaal: Dit sluit in sweis (met gas, elektrisiteit, MIG, MAGS), die ontwikkeling en bewerking van staalplaat en die oprigting van strukture daaruit. Hierdie drie vakke was voorheen deel van Meganiese Tegnologie. Wat meer is, is dat hierdie vakke nou tot ʼn leerling se toelatingstelling sal bydra, siende dat dit nou ook deur universiteite en universiteite van tegnologie erken word. Die toevoeging van Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap is nóg ʼn verandering wat leerlinge nou werklik aan die Wiskunde en Wetenskap blootstel wat hulle in hul loopbane sal help. Een ding is seker, tegnies is terug – en HTS Sasolburg is gereed om jou vir ʼn suksesvolle loopbaan voor te berei!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button