
VANDERBIJLPARK. – Skade van miljoene rande en self die verlies van lewens kan aan die deur van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gelê word deurdat infrastrukture soos teerpaaie, straatbeligting, padtekens en strepe nie voldoen aan die standaarde nie.
‘n Ongeluk net na 13:00 Maandag 4 Junie het weereens bewys dat die instandhouding van plaaslike paaie veel te wense laat. Die bestuurder van ‘n Volkswagen Polo moes skielik rem vir ‘n slaggat van meer as ‘n meter wyd en ongeveer 15cm diep wat vol water staan in Currie Boulevard, CW5. ‘n Toyota wat agter hom gery het kon ook nie betyds rem nie en die twee voertuie het teen mekaar gebots. Die Polo het aan die anderkant van die dubbellaan tot stilstand gekom. Die bestuurder van die Polo is lig beseer en ER24 paramedies personeel het hom op die toneel behandel. Die bestuurder van die Toyota Corolla het geen beserings opgedoen nie.
Lewens is die ergste prys wat betaal kan word vir die swak dienste wat aan die Vaaldriehoek publiek gebied word. Verskeie ongelukke in die Vaaldriehoek het gepaard gegaan met lewensverlies waar padtekens soos robotte en stoptekens nie werk of heeltemal verwyder is. Die Munisipaliteit wat veronderstel is om vir sy inwoners ‘n veilige omgewing en blyplek te skep, is egter besig om baie onskuldige mense se lewens te neem.




