Kleingeld vir CANSA
Kleingeld vir CANSA
MEYERTON. – Vir meeste van ons is kleingeld sommer net ‘n irritasie, dit is nie asof jy meer veel kan koop met ‘n paar sente in jou beursie nie. Maar as jy al jou kleingeld bymekaar sit oor ‘n tydperk sal jy verbaas wees hoeveel dit werklik is. Tristan Batalides, ‘n graad 7-leerling aan Destinata Skool het besluit om deel te neem aan Cansa se munt-projek en het leerlinge en onderwysers aangemoedig om hul kleingeld skool toe te bring om die projek te ondersteun. Hy het dit gedoen omdat sy 16-jarige sussie, Crizell, die stryd teen kanker aangesê en dit gewen het.
Tristan het tydens die munt-projek ‘n allemintige R13 798.70 ingesamel en dit aan Cansa Vaal oorhandig. “Ons is baie dankbaar vir die inisiatief van die jong seun. Projekte soos hierdie stel ons in staat om weer om te sien na ons pasiënte en te help waar ons kan,” sê Lelani Potgieter van Cansa Vaal.



