VANDERBIJLPARK. – ‘n Leeftyd gaan verlore as jy by die huis kom en alles wat jy besit het, is in ‘n brand verwoes.
Dit was die lot wat drie gesinne verlede Vrydag 31 Julie getref het toe drie houthuisies op die Rusticana-kleinhoewes deur vlamme verswelg is. Twee babahondjies het ook doodgebrand.

Volgens Jackie Hodgkinson wat saam met haar suster Antoinette Landman mede-eienaar van die kleinhoewe is, het die brand in die tweede van die sewe eenhede ontstaan. Die brand het in die huisie van Jacobus en Isabella Steyn begin nadat Isabella hulle twee dogters by die skool gaan haal het. Volgens ‘n voorlopige ondersoek was daar ‘n spiraalverwarmer in die huis wat aan was en kon die twee hondjies moontlik met hul spelery die verwarmer omgestamp het. Skade van bykans R200 000 is net aan die geboue aangerig.
Neels Landie, wat saam met sy vrou Sharon en hul vier kinders in die derde eenheid gewoon het, sê hulle het alles verloor.
“Ek is so teen 12:00 werk toe, toe my vrou my teen 13:45 bel en sê die huis is aan die brand,” sê Neels. “Die huisie was dadelik in vlamme en met die sterk wind wat die dag gewaai het, het twee aangrensende eenhede ook aan die brand geraak,” vertel Sharon, wat ten tyde van die brand in die wooneenheid langsaan was. “Ons het probeer om die brand te blus, maar die wind het die brand so vinnig laat versprei.”
Volgens Jackie wat ‘n ruk later op die perseel aangekom het en die brandweer gebel het, het die brandweer eers na ‘n uur opgedaag. Hulle het intussen ‘n man gekontak met ‘n waterkar, wat saam met die brandweer daar opgedaag het. “Twee mans wat verbygery het, het ons kom help om met emmers water die brand te probeer blus,” het Jackie aan Vaalweekblad gesê. Werkers van Jordaans was ook eerste op die toneel met brandblussers om die brand te help blus. Skade is ook aan die vierde huisie langsaan aangerig, nadat die vlamme die sykant van die gebou begin brand het. ‘n Pensioenaris, tannie Elize, wat in die eerste eenheid woon, was tydens die voorval uithuisig en is telefonies oor die brand in kennis gestel. Al drie die huurders het behalwe die klere wat hulle aangehad het, alles verloor. Daar is verskeie noodroepe op sosiale media gemaak en enige iemand wat die gesinne kan help, kan Jackie by 082 723 4726 kontak. Jackie bedank graag almal wat reeds bydraes gemaak het en gesorg het dat hulle komberse en kos het. Die gesinne kort egter nog nie-bederfbare kosse en elektriese toebehore, waaronder yskaste en wasmasjiene.



