Local newsNews

Wayne sterf slapend met ma Jenny aan sy sy

Na vier weke van intense pyn nadat sy tweede been weens 'n seldsame bloedsiekte in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geamputeer moes word, het Wayne Schreüder Maandagoggend in sy slaap met sy ma aan sy sy, gesterf.

 
SASOLBURG. – Mev. Jenny Schreüder se wens, dat haar seun Wayne gesond moes word en moes aanpas by sy nuwe lewe sonder bene, is nie bewaarheid nie, maar dit waarvoor sy die meeste gebid het, dat sy oorgang na die hiernamaals sag en pynloos moes wees, het net na 07:00 Maandagoggend (11 Junie) waar geword.
Na vier weke van intense pyn nadat sy tweede been weens ‘n seldsame bloedsiekte in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geamputeer moes word, het Wayne Schreüder Maandagoggend in sy slaap met sy ma aan sy sy, gesterf.
Vaalweekblad het drie weke gelede berig dat Wayne, ‘n voormalige sportgeesdriftige, se regterbeen in Augustus verlede jaar geamputeer moes word, en sy regterbeen op 17 Mei vanjaar. Die rede was dat sy bloed aanhoudend klonte gevorm het, wat verhoed het dat suurstofryke bloed sy bene kon bereik.  Wayne se liggaam het nie op medikasie wat gewoonlik vir dié toestand help, gereageer nie. Sedert die laaste amputasie in Mei moes Wayne vyf opvolgoperasies ondergaan om dooie weefsel weg te sny en dokters het voorspel dat hulle mettertyd albei sy heupe sou moes amputeer. Hy het nie vir verdere operasies kans gesien nie en is verlede week deur sy ouers na hul huis in Sasolburg gebring, waar hy en sy gesin hulle voorberei het op sy dood.
Talle vriende en familielede het verlede naweek vir oulaas kom groet, omdat niemand kon voorspel hoe lank Wayne nog sou oorhê nie. Teen Sondag was hy egter so swak dat hy nie meer besoek kon ontvang nie.
Vir Jenny en hul gesin was Wayne se laaste dae ‘n marteling. Dit het haar hart in stukke geskeur om te sien hoe die trane van pyn oor sy wange loop terwyl hy pleit vir net nog ‘n bietjie morfien, terwyl hy reeds sy maksimum-dosis gehad het.
Die heeltyd was Jenny se boodskap aan haar tweede-oudste seun: “Mams verstaan jou besluit om nie meer van jou ledemate te laat wegsny nie, ek verstaan dat jy nie meer pyn wil hê nie, maar verstaan ook dat ek altyd vir jou lief sal wees, altyd daar sal wees vir jou en onthou die dag as jy deur die Hemelpoorte gaan, sal jy geen pyn meer hê nie en jy sal weer volkome heel wees.”
Danksy die morfien het hy Maandagoggend geslaap toe hy stil en sonder pyn weg is – met sy ma langs sy sterfbed. “Dalk gaan God Wayne se lewensverhaal gebruik om mense wakker te maak. Dankie vir elke gebed, dankie vir elke boodskap, ons waardeer dit opreg,” sê Jenny.
Wayne word buiten sy ma ook oorleef deur sy pa, Johan, en drie broers, Ryno, Colin en Shaun.
* Raadslid Jacques Barnard van die Metsimaholo-munisipaliteit en vriend van die gesin, het Maandag ‘n beroep op die publiek gedoen om die gesin te help om ‘n mooi begrafnis vir Wayne te gee. Enigiemand wat ‘n donasie wil maak, is welkom om dit in te betaal in die volgende rekening:
Mnr. JH Schreüder. Nedbank Tjekrekening: 1764330579. Sasolburg takkode: 17643650

 
Op die Facebookblad: In Herhinnering aan Wayne Schreuder/ In Memories of Wayne Schreuder  verskaf Jenny die volgende inligting oor die troosdiens, wat more  Maandag 18 Junie) vir Wayne gehou word:

Graag gee ons die volgende deur na almal. Wayne se wens was om veras te word en daarom sal daar ‘n diens gehou word op Maandag, 18 Junie uit die AGS Dinamika kerk om 11:00 in Vanderbijlpark. Die voorkant van die kerk is 4 Piet Cronje straat en die agterkant is h/v Pres Steyn- en De Miststraat. Die mense kan altwee kante parkeer. Dit is by die robot van Fruit en Veg af, draai regs na die motorhawe en ry tot by Vaal Slaghuis. Die Kerk is aan die linkerkant. Kan ons asb aanduiding kry van hoeveel mense gaan kom om ons beplanning vir die eetgoed te bepaal. Stuur asb net vir my  ‘n SMS-boodskap of whatsapp met die getal mense wat saam met jou kom. Baie dankie vir jul samewerking, ons waardeer dit baie. Dankie vir die wat vir die laaste keer vir Wayne wil kom groet, daar sal ‘n oop kis by Bertom’s Begrafnis Dienste wees vanaf 09:00 tot 10:00 by 28 Robert Broom straat in Vanderbijlpark, Maandagoggend voor die diens. Sien julle almal Maandag….

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button